Dagstukkie: nuutste


 

 

    Nr. 45/1                  19 Ramadan 1431 H / Maandag / 30 Augustus 2010

 

 

    Dagstukkies uit die Koran met gedagtes van bemoediging deur S'aad en Sadia 

    Is my fokus op Allah se genade en vergifnis en die Paradys, of dien ek Hom omdat ek bang is vir Hom en bang is vir die...?

 

 

 

Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene, en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste.

Koran 17:97 "En diegene wat deur Allah gelei word is reg gelei. En wie Allah laat afdwaal, vir hulle sal jy nooit enige helpers kan vind behalwe Allah self, nie. En Ons sal hulle op die Oordeelsdag bymekaarmaak met hulle hangende gesigte, blind, stom en doof. Hulle woonplek is die Vuur. En wanneer die Vuur begin uitbrand, dan vermeerder Ons weer die vlamme vir hulle."

Die een onderwerp waaroor ek baie moeilik gesels is die onderwerp van die plek waarheen ons sal moet gaan indien Allah dit so wil hê.

Ek probeer my beste om so besig te wees met die goeie dinge dat daar nie eers gedagtes aan hierdie vreeslike plek by my opkom nie en dat ek gladnie daaroor hoef te dink nie. Ek probeer om Allah heeldag te loof en te prys en so aan Hom gehoorsaam te wees dat daar nie 'n oomblik van die dag is wat ek aan die verskriklikste plek hoef te dink nie.

Tydens my vertaling van die Koran, moet ek uiteraard die woorde en gedagtes wat Allah in die Koran gegee het om hierdie skrikwekkende plek te beskryf vertaal, ek moet daaroor dink en ek moet Allah se woorde na die beste van my vermoë oor hierdie ondenkbaar afgryslike plek oordink en in Afrikaans weergee... en dit vul my met afgryse.

Maar, dis nou Ramadan... aanbiddingstyd... feestyd... vreugdetyd... en gedurende die eerste deel van Ramadan het ons gefokus op Allah se genade. Iets wat Mufti Menk oor en oor sê in sy lesings is: "Moenie ooit hoop verloor in die genade van Allah nie!" Alle lof kom Allah toe.

En ons jubel en juig en lewe, 'n lewe van oorwinnaars in Allah se genade. En ons glo dat Allah ons vergewe het: ja ons hou vas aan Sy vergifnis en loof en prys Hom daarvoor.

Nou, gedurende die laaste tien dae, kan ons by Hom pleit en ons kan op grond van Sy genade en die feit dat Hy ons vergewe, ook vra dat Hy ons sal verlos en sal red van die Vuur van die Hel...

Maar ons mag nooit beangs raak en hopeloos vasgevang raak in die verskrikking van die Vuur van die Hel nie. Nee, ons moet altyd as oorwinnaars oor die sonde, as diensknegte van Allah die Alomgenadige, die Genadigste met berusting in die wete dat Allah die beste weet, vir Hom vra... altyd met hoop en blydskap en vreugde en geloofsekerheid.

Dan verskuif my gedagte na die Paradys... na die ewige lewe, die Hiernamaals saam met Allah in die "Hemel."

Dan kan ek nie anders nie as om bly te word, om kinderlik te weet dat die Koning, my Skepper, Voorsiener en Onderhouer ook die hoop van die Opstandingsdag, die Oordeelsdag in my hart plaas as dag van vreugde en blydskap.

Dan word die laaste tien dae van Ramadan vir my tien dae van belydenis dat ek glo dat daar geen ander god is nie, en dat Allah die Enigste en die Een God is wat ek ook aanbid. En dan loof en prys ek Allah omdat ek ook kan hoop op die Paradys... en dat ek Hom kan aanbid met my hele lewe deur gehoorsaam aan Hom te lewe... soos Allah wil.  

Gebed: O my Allah, dankie dat ek in U genade en in U vergifnis kan lewe. Dankie dat ek ook in die hoop kan lewe van 'n Ewige Lewe saam met U in die Paradys. Dankie dat ek kan hoop en kan glo en kan getuig en kan bely dat U God is, dat U reeds ook nou hier op aarde in my lewe besig is en dat ek aan U kan behoort. Amen 

 

 

 

Die doel met hierdie dagstukkies is om jou te bemoedig in hierdie veeleisende wêreld waarin ons lewe, soos wat ons bemoedig word deur ons daaglikse studie van die Koran. Omdat dit vir ons soveel beteken wil ons dit graag met jou deel, en ons vertrou dat Allah jou ook daarmee sal aanraak om jou aan te moedig om nie moedeloos te word nie.

Onthou Allah het jou baie lief!

Ons nooi jou ook uit: As jy vandag n behoefte het wat jy graag met iemand wil bespreek of as jy wens dat daar tog net iemand was vir wie jy iets kon sê of iets kon vra, of as jy iemand nodig het om tog net saam met jou te bid oor iets wat vir jou 'n swaar las op die hart is, e-pos vir S'aad of Sadia by.. sjbekker@vodamail.co.za    of    sadiabekker@vodamail.co.za

Ons het jou terugvoer ook baie nodig: As jy seën ontvang uit hierdie dagstukkies stuur dit asseblief aan ander Afrikaanssprekendes, of druk dit en gee dit vir hulle met die versoek dat hulle, hul e-pos adres aan ons kan stuur om dit ook te ontvang. Maar as jy dit nie geniet nie, laat ons weet wat ons kan verander of as ons jou epos adres liewer van die lys moet afhaal. (Kopiereg word voorbehou: so jy mag dit net nie in enige vorm verkoop nie)

 

 

Die aanhaling uit die Koran kom uit n nuwe vertaling van die Koran in Afrikaans: "Die Boodskap van die Koran" deur S'aad en Sadia Bekker, 'n liefdeswerk aan die hand van die Ma'ariful Quran wat n omvattende kommentaar op die Heilige Koran deur Maulana Mufti Muhammad Shafi is.  www.koraninafrikaans.com