'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
Was (Wudhu)
Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene
Ek begin met die naam van Allah die Alomgenadige die Genadigste
Was / Mindere Reiniging / Wudhu
Die Was of Mindere Reiniging of dan in Arabies “Wudhu” beteken om sekere gedeeltes van jou liggaam te was voordat jy jou vyf of meer daaglikse Aanbiddingsessies doen (Salaat lees.)
Dit is 'n voorvereiste. Mens mag nie enige Aanbidding doen alvorens jy jouself nie ten minste gewas het nie. Mens mag wel gewoonweg Bid, soos wat mens Bid nadat jy Aanbid het, maar nie op die voorgeskrewe manier Aanbid, of deelneem aan die Aanbidding in die Moskee, nie.
Die volgende gebeure veroorsaak dat jy jouself eers weer moet gaan was:
1. As jy toilet toe gegaan het om te urineer of stoelgang gehad het.
2. As jy 'n windjie gelaat het: as jy egter sukkel met winderigheid as siekte of as eenmalige ongesteldheid dan verbreek dit nie jou Mindere Reiniging tydens Aanbidding nie. Maar jy sal jouself net eers weer moet gaan was elke keer voor jy Aanbid.
3. As jy aan die slaap geraak het,
4. Ten minste 'n mondvol opgegooi het,
5. Vlou geword het.
Indien jy sedert die laaste keer wat jy jouself gewas het, nie een van die bogenoemde beleef het nie, hoef jy nie weer te gaan was nie.
Voordat jy begin met die Mindere Reiniging is dit gepas om die volgende Gebed te bid:
Met die naam van Allah. Alle lof kom Allah toe.
(Bis-mil-laa hi wal ham-du lil-laahi.)
Hier is dan nou stap vir stap hoe om jouself te was:-
En terwyl jy jouself was, bid jy die volgende pragtige Gebed:
O my Allah, vergewe my, my sondes, gee my oorvloed in my huis
en seëninge in my lewensmiddelle.
(Allahum-mag fir-li zanm-bi wa-was-si'-li fi-daa-ri wa-ba-rik li fi-riz-qi.)
1. Trek 'n handdoek nader vir jou gesig en arms en 'n voethanddoekie vir jou voete. Let wel: In die Moskee mag jy nie 'n handoek gebruik vir jou voete nie, maar eerder van die pappierrol as daar is anders moet jy maar jou sakdoek gebruik of natvoet in die Moskee ingaan.
2. Gaan sit gemaklik by die kraan sodat die water verkieslik nie op jou klere spat terwyl jy was nie. Leun dus vooroor.
3. Maak die kraan net groot genoeg oop. Was jou regtehand tot by jou polse drie keer, en dan dieselfde met jou linkerhand.
4. Gebruik 'n Tandeborselstokkie of “Miswaak” om jou tande skoon te maak, gorrel dan water drie keer in jou mond en spoeg dit uit.
5. Skep vinnig met jou regtehand bietjie water en vee dit in en oor jou neusgate drie keer na mekaar terwyl jy na elke keer jou pinkie en duim gebruik om jou gelyktydig beide neusgate skoon te maak.
6. Vat water in albei hande en was jou gesig van die boonste gedeelte van jou voorkop tot onder jou ken insluitende jou wange vanaf die een oorbel tot by die ander. Doen dit drie keer.
7. Was nou jou regtehand en -arm tot net verby jou elmboog drie keer, en dan jou linkerarm en -hand.
8. Sprei nou die vingers van jou regtehand oop en vryf die vingers van jou linkerhant drie keer van agter af daardeur en doen dieselfde met jou linkerhand.
9. Maak beide hande goed nat en doen die volgende: vryf met een haal jou nat hande oor jou hare, beweeg jou wysvingers deur jou oorlobbe en met die agterkant van jou nat hande vee jy jou nek langs die kante af met een veeg.
10. Nou jou voete: die voete was ons net met die linkerhand. Gebruik jou linkerhand om jou regtervoet drie keer te was insluitend jou enkel en stryk jou pinkie tussen jou tone van regs na links. Was dan ook so jou linkervoet met jou linkerhand, waarna jy ook jou pinkie van regs na links tussen jou tone deur stryk
11. Droog eers nou jou kop, arms en hande af in die volgorde wat vir jou gemaklik is en laastens jou voete met 'n voethanddoekie of papierrol as jy wil. In die winter is dit beter om jou voete ook goed af te droog want jy wil dalk jou sokkies aantrek voordat jy in die Moskee begin Aanbid.
Terwyl jy dan afdroog bid jy die volgende gebed:
O Allah maak my een van die wat berou het en een van die wat skoon en rein is.
(Al-laa-hum-maj al-nie mi-nat tou-waa-bee-na waj-al nie mi-nal mu-ta-tah-hi-rien.)
Nou is jy gereed om te Aanbid: geniet dit! Wat 'n heerlike voorreg en belewenis om laag voor ons Skepper, Voorsiener en Onderhouer neer te kniel.
Mag Allah jou so seën met Sy aanraking diep in jou hart en jou intens verseker van Sy liefde vir jou... Vrede vir jou.