Toiletreiniging / Istinja

  

Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene

Ek begin met die naam van Allah die Alomgenadige die Genadigste

 

Reiniging na gebruik van die Toilet / “Istinja”

 

Die Arabiese woord “Istinja” beteken om jouself te was met water terwyl jy nog op die toilet sit nadat jy ge-urineer het en/of 'n stoelgang gehad het.

 

Ons wat nie gebore Moslems is nie, is gewoond daaraan om onsself af te vee met toiletpapier met die hand waarmee ons gewoonlik skryf of eet. Die manne is dalk ook gewoond om by die "krip" te staan.

Moslems doen dit so bietjie anders: Moslems, beide mans en dames, gebruik die toilet so sit-sit en gebruik die hand wat hulle nie gewoonlik mee eet nie, om die afveewerk te doen en dan was Moslems ook die Urineerorgaan en die Anus met water.

Nou, dit klink miskien bietjie vreemd en onnodig, maar glo my, veral as mens bietjie ouer word en die sluitorgane van die liggaam werk nie meer so lekker nie, dan is Istinja sommer 'n blink idee. En, manne erken dit nou maar: by die huis waar daar nie 'n "krip" is nie, sprei jy die hele toilet en toiletmatjie so staan-staan sopnat en dan moet die volgende toiletgebruiker na jou eers skoonmaak of die huisvrou moet gereeld die matjie was! En nou praat ons nie eers van die druppeltjies urine wat so staan-staan op jou broek spat nie! En vir 'n Moslem is reinheid en skoonheid en netheid net gewoon: "next to godliness"!    

 

Goed ek moet erken, dit is nogal iets om aan gewoond te raak hoor! Maar glo my, mens raak dit sommer gou gewoond.

 

Gebruik 'n Waterbekertjie of Plastiekbotteltjie om mee te was

 

Ek gebruik 'n klein plastiese bekertjie en my man gebruik 'n 500ml waterbotteltjie, omdat ek gewoond is aan die bekertjie en my man vind dat die botteltjie vir hom beter werk.

 

Moenie skrik as jy net so begin leer om Istinja te doen, en jy vind dat die vloer van die toilet vol water is nadat jy Istinja gemaak het, nie. Dit het met my man gebeur, wat ook 'n “Revert” is: jy sien net water. So wees voorbereid vir dit. Want jy sien, nie-Moslems is gewoond om die hand wat hulle mee eet, wat gewoonlik die regterhand is, ook te gebruik om hulleself met toiletpapier mee af te vee. En wanneer hulle nou Moslems word, en hulleself afvee en was met die ander hand, gewoonlik die linkerhand wat dom is en dit nie gewoond is nie, sien jy net water spat.

 

In praktyk beteken dit dus nou dat terwyl jy die water stadig met jou regterhand uit die bekertjie of botteltjie gooi was jy met jou linkerhand die Unineerorgaan en/of jou Anus.

 

Gebruik Papierhanddoek om mee af te droog

 

Papierhanddoek werk baie goed nadat jy Istinja gemaak het om mee af te droog, en omdat dit dikker is as toiletpapier, bly daar nie stukkies papier kleef aan jou Urineerorgaan of Anus nie. As jy egter op 'n plaas bly moet jy liewer nie die papierhanddoek in die toilet gooi nie: dit sal die toiletstelsel wat oor die algemeen op plase gebruik word, laat verstop. Kry 'n klein asblikkie en sit 'n gewone plastieksak in die asblikkie en dan gooi jy die gebruikte papierhanddoek daarin en wanneer die asblikkie vol is bind die plastieksak toe en gooi dit weg met jou gewone huisrommel. Moenie bekommerd wees oor reuke nie want die papierhanddoek bevat mos maar net die water wat jy afgedroog het nadat jy reeds skoon gewas het. As jy in die stad bly is dit veilig om die gebruikte papierhanddoek in die toilet te gooi omdat die toiletspoelstelsels in die stede sterker is.

 

'n Mens betree ook die toilet met jou linkervoet eerste en net voordat jy instap bid jy die volgende Gebed: Al-laa-hum-ma in-nie a-oo-thu bi-ka mi-nal khu-bu-thi wal kha-baa-ith. O Allah ek soek beskerming in U van die manlike en vroulike Jinn.

 

Hier is Istinja stap vir stap:-

 

  1. Maak die houertjie wat jy gaan gebruik om te was vol water voordat jy op die toilet sit.

  2. Sit gemaklik op die toilet en doen jou ding.

  3. Hou die bekertjie/botteltjie met jou regtehand vas om die water te gooi op jou Urineerorgaan en/of Anus en was met jou linkerhand. Gooi water van agter af vir jou Anus en van voor af vir jou Urineerorgaan.

  4. Gebruik dan twee velletjies papierhanddoek om jouself mee af te droog: eers die anus waarna jy die velletjie in die asblikkie gooi en dan jou Unrineerorgaan waarna jy kan opstaan en die rand van die toilet ook daarmee kan afdroog voordat jy dit ook in die asblikkie gooi.

  5. Spoel die toilet.

  6. Was albei hande met seep as die wasbak by die toilet is anders moet jy eers 7. doen voordat jy 6. kan doen.

  7. Trek jou klere aan.

 

Dit is Onwenslik(Makruh) om Istinja te maak met koerantpapier en om te staan en urineer. So manne, julle staan en urineer-dae is verby: maar weereens mens raak dit gewoond en ek dink die ander gebruikers van die toilet sal dit ook waardeer as daar nie meer die spatsels op die toilet se rand of op die toiletmatjie is nie.

 

Verlaat dan die toilet met jou regtervoet eerste, terwyl jy die volgende Gebed bid: Ghuf-raa-nak. Al-ham-du-lil-laa-hil la-thee ath-ha-ba an-nil a-thaa wa aa-faa-nie. Ek soek U vergifnis. Alle lof kom Allah toe wat my ongemak weggeneem het en aan my verligting gegee het.

 

Vrae en antwoorde:

1. Hoekom doen Moslems Istinja?

Reinheid, skoonheid en netheid speel 'n baie groot rol in 'n Moslem se lewe. Ons maak die Mindere Reiniging(Wudhu) voor ons Aanbid en ons Bad(Ghusl) gereeld: so om Istinja te doen is deel van skoonwees in 'n Moslem se daaglikse lewe.

  

2. Hoekom bid Moslems die gebed voordat hulle in die toilet ingaan?

Moslems glo dat Allah, mense en Jinn geskape het. Omdat ons nie die Jinn kan sien nie (hulle is van vuur gemaak), bly sommige van hulle in die toilet en soos mense kry jy die goeies en die slegtes/bose. Ons vra Allah vir beskerming teen die slegtes/bose.

As die gedagte egter vir jou vreemd is en 'n probleem en onaanvaarbaar, bespreek dit gerus met ons of beter nog met jou Moulana totdat jy duidelikheid daaroor het, want vir my man het dit ook al te veel na "spookstories" en bygeloof geklink. 

3. Hoekom is dit onwenslik om in die toilet te praat?

Omdat jy daar is vir 'n doel: om jouself te verlig van die ongemak en omdat daar baie kieme in die toilet is. As jy dus 'n geselsie wil aanknoop, is die toilet nie die geskikte plek nie.

4. Hoekom hou Moslems waar moontlik liewer die toiletdeur toe, tensy dit belangrik is dat die deur moet oopstaan vir ventilasie?

Omdat daar sekere privaat gedeeltes van jou liggaam is wat dan ontbloot is en wat Moslems as jou "Sattar"(Privaatdele) beskryf. Die reuke is mos ook maar soms onaangenaam is dit nie?

Ventilasie is baie belangrik vir vars lug en in sommige gevalle om te voorkom dat Fungus teen die plafon en mure groei as jy 'n badkamer en toilet in een vertrek het. Wanneer jy klaar is los dan die deur oop.

 

 

5. Hoekom klop Moslems aan die Toiletdeur voordat hulle die deur oopmaak en ingaan?

In ons huis sluit ek nooit die toiletdeur wanneer ek toilet toe gaan nie, en soms is my man buite hoorafstand of ek het 'n nood en kan nie vir hom se dat ek toilet toe gaan. Dis net goeie maniere veral as jy gaan kuier of kuiergaste ontvang.

Ons gebore Moslems is ook van kleins af geleer dat daar 'n manlike en vroulike Jinn is wat in die toilet woon, en dat ons eers moet aanklop voor ons ingaan. (Bespreek dit ook met ons as jy wil of met jou Moulana want ons wil nie hê jy moet dink dat Islam 'n spul bygeloof is nie!)

6. Hoekom is dit onwenslik om die deur van die toilet oop te hou terwyl mens dit gebruik?

Wel, afgesien daarvan dat jou privaatdele ontbloot is, kom dit seker maar net neer op goeie maniere, of wat dink jy?

7. Hoekom is dit wenslik dat die Moslem liewer 'n Toppie of Kopdoek sal ophê wanneer hy of sy die toilet gebruik?

Omdat ons van kleins af geleer is dat dit so gedoen moet word omdat die Jinn daar bly en om jouself teen hulle te beskerm.

 

8. Hoekom is dit wenslik dat Moslems liewer skoene aan sal hê as hy of sy die toilet gebruik, veral as daar reeds 'n toiletmatjie voor die toilet lê en mens nou miskien snags kaalvoet toilet toe stap?

Kaalvoet stap is nie 'n goeie idee nie omdat daar in 'n huis insekte soos spinnekoppe ensovoorts rondhardloop wat jou op jou kaalvoet kan byt. Die toiletvloer is dalk 'n bietjie stowwerig en dan wil jy nie met vuil voete terugklim in die bed nie.
 
Dit hou waarskynlik ook verband met die plat, potlose toilet wat Moslems tradisioneel gewoond is om te gebruik en waar die "sitplek" en die "voetplek" een en dieselfde is met die gevolg dat jou voete dalk kan nat word wanneer jy Istinja maak? 

Naskrif: Omdat Moslems juis mense is wat niks vir soetkoek opeet nie, moedig ons jou aan om vir jouself, in gesprek met jou Moulana, 'n gehoorsaame lewe van toegewyde Moslemwees uit te werk, soos Allah wil, sonder dat jy afwyk van die mees basiese vereiste van Moslemwees en dit is onderdanigheid aan Allah.

Met baie opregtheid en erkentlikheid aan Allah wat die beste weet!


Sadia en S'aad