Jy hoef nie af te voel nie!

 Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene

Ek begin met die naam van Allah die Alomgenadige die Genadigste


Jy hoef nie af, neerslagtig, bedruk en depressief te voel nie!


Allah die Almagtige is baie lief vir ons.


O my Allah: U weet ek was maar net 17 toe U my Ma teruggeneem het omdat alles aan U behoort. Aan Allah behoort ons en na Allah toe sal ons terugkeer: dit is U belofte aan ons.”


Dit was baie traumaties vir my omdat ek en my Ma baie geheg was aanmekaar. Ek het toe net so pas matriek klaar gemaak en hier sit ek sonder 'n ma: hoe uiters pynlik!


Ek kan glad nie onthou hoe het ek die eerste jaar nadat my Ma oorlede is deurgegaan nie, en ek kan nie onthou wat het ek alles gedoen in daardie jaar nie. Dit was alles net te traumaties vir my.


Ek verlang na die roti's wat my Ma gemaak het, omdat die roti's wat ek maak “buierig” is: dis of kliphard of dis droog. Ek het al verskillende resepte uitprobeer, maar nie een van dit werk nie.


Ja, en ek verlang ook na die tye wat sy my hare gevleg het voor skool begin het soggens, en my gesoen het by die deur toe ek op pad uit is om skool toe te gaan... “Dankie Allah vir my ma.”


Dit is nog steeds moeilik vir my om na 'n begrafnishuis te gaan van iemand, familie of nie, wie se moeder gesterf het: dis nog pynlik.


Dit is nog steeds vir my moeilik om by iemand te kuier, vriendinne of nie, wie se ma's nog lewe en om die interaksie te sien tussen Ma en dogter. My vriendinne sal dit nie kan verstaan nie.


Veral as iemand nie 'n goeie verhouding het met hulle Ma's en Pa's nie, dan kom die vraag by my op: verstaan hulle dan nie die waarde van hul Ma's en Pa's nie? Vra vir my!


My Ma is weg, ja... dis waar en dit was baie seer... maar Allah het my nie verlaat nie! Allah is nog daar en Hy is by my en Hy het my lief!


Dit is nou 20 jaar verder en ek lewe nog... ja ek lewe nog!


O my Allah, U wou vir my van die ouderdom van 17 af leer dat ek net op U kan staatmaak, dat ek net na U moet roep en dat U altyd lief is vir my. Ek hoef nie vir agtuur die aand te wag vir gratis-tyd op my selfoon om 'n oproep na U toe te maak nie, ek hoef nie vir die rooi robot te wag om groen te word voordat ek verder na U toe kan ry nie. U is beskikbaar elke sekonde van my lewe waar ek ook al is: daar is U. Elke nou en dan stuur U vir my 'n aanmaning of 'n vermaning, wanneer iemand in my familie iets ernstig oorkom of sterf, om my terug te bring op die Regte Weg: vergewe my wanneer ek van die Regte Weg afdwaal...”


My Pa is ook ses jaar gelede oorlede.


Dis wonderlik dat Allah aan ons wat dogtertjies is, Pa's gee, want terwyl ons Pa's lewe is hulle vir ons soos Beskermengele, wat deur Allah aan ons geleen is.


Nadat my Pa oorlede is, het mans met onopregte intensies na my toe gekom wat dit nie sou gewaag het terwyl my Pa gelewe het nie.


My Pa het my geleer hoe om inkopies te doen en my altyd aangemoedig om my bestuurderslisensie te kry, al kon ek nie 'n voertuig bekostig nie.


Dankie aan U Allah vir my pa.”


Familie en vriende wat my Ma en Pa geken het sê vir my ek lyk soos my Ma en Pa. So elke nou en dan wanneer ek in die spieël kyk dan sien ek 'n bietjie van my Ma en 'n bietjie van my Pa. Dan onthou ek hulle.


Elke jaar as dit by hierdie datums op die kalender kom, en op die dae wat ek onthou dat dit my Ma of Pa se verjaarsdag was... of as nog 'n jaar verby is vandat my Ma en Pa oorlede is, dan raak ek weemoedig en treurig en hartseer...


Vroeër toe ek nog 'n alleenloper was, kon ek na hartelus treur en hartseer wees sonder om iemand anders se gevoelens in ag te neem. Maar nou is ek getroud en moet ek my man se gevoelens of die afwesigheid daarvan op dae wat vir my spesiaal is probeer verstaan... wat verwag ek dus op daardie dae van my man?


Dink ek miskien by myself dat: as ek hom een keer al gesê het watter die “seerdae” in my lewe is, dat hy dit moet onthou? En indien hy dit nie onthou nie, dan is ek kwaad vir hom omdat hy dit nie onthou nie of omdat hy niks sê nie al onthou hy dit, omdat hy my seer verstaan?


Ek sê liewer vir hom: “Liefie, ek is vandag bietjie af... ek wil hê dat jy my drukkies moet gee en verseker van jou liefde...” en dan sê ek vir myself ek mag net vir 'n kort rukkie treur en hartseer wees, en nie die hele dag lank nie, omdat ek lewe en Allah my baie gegee het om oor bly te wees: ...die son skyn vandag, ek is gesond en ek het my geliefde hier naby my.


As jy dalk alleen is, of sonder 'n sielemaat, of geskei is, of jou geliefdes verloor het, wil ek jou graag aanraai om hierdie baie goeie boek te lees:


DON'T BE SAD” geskryf deur Aaidh ibn Abdullah al-Qarni.


Koop dit as jy dit kan bekostig of leen dit by iemand. Dis bedoel vir elke mens wat nou en dan deur 'n moeilike tyd gaan of wat verlies en trauma in die verlede beleef het.


As jy egter gelukkig en tevrede is met jou lewe, kan jy dit gerus ook lees, sodat jy iemand anders kan bystaan en aanmoedig wat dalk nie gelukkig voel nie, of wat eensaam is, of wat verlore voel, of wat depressief voel.


En dames: julle wat gelukkig getroud is kan gerus uitreik na elke geskeide vrou, elke eensame vrou: jy sal nie 'n siekte opdoen om vriendinne te maak met geskeide vroue nie.


Wat is belangriker?: om jou aandag te vestig op die rede hoekom die vrou geskei het, of om daar te wees vir haar omdat jy self 'n vrou is!


Reik ook veral uit na die wat enkelouers is.


Wees daar om te luister en nie om te veroordeel nie, doen dit met opregtheid, moenie vals wees nie. Die vrou het seer genoeg gekry!


Wees lief vir jouself sodat jy ander kan liefhê, vergewe jouself sodat jy ander kan vergewe.


Allah het ons nie as monsters geskape nie so moenie soos een optree nie.


Vergifnis maak JOU vry om nader te lewe aan Allah. Vergifnis doen meer vir jou wat seergemaak is en vergewe, as wat dit doen vir die een wat jou seergemaak het.


Depressie is 'n lelike ding: as jy dit toelaat in jou lewe sonder dat jy dit beheer maak dit van jou 'n lelike mens. Jy vergeet om te glimlag, jy huil aanhoudend, en jy veg met jou geliefdes. Niemand wil naby jou wees nie omdat jy soos 'n tydbom is wat enige oomblik gaan ontplof, en as jy dan ontplof dan tref die nare gevolge daarvan jou geliefdes, en dit is alles onnodige gevolge van jou onvermoë om jou depressie te hanteer.


Besef hierdie ding nou, vandag, en op hierdie oomblik: as jy in 'n depressie verval is jy baie onregverdig teenoor jou familie jy maak almal rondom jou ongelukkig.


Sê vir jouself: ek bly nie meer daar nie, ek leef nie meer in daardie tydperk nie, dis verby: so ek hoef nie in die verlede te lewe nie. Wees dan bly dis oor en verby en sê vir jouself: “Allah is nog met my en ek lewe nou en vandag in die hier en die nou...”


Gebed: O my Allah dankie dat U my geleer het dat ek net na U toe moet gaan, en dat U altyd beskikbaar is waar ook al, wanneer ook al. U is daar vir my omdat U my Skepper, Voorsiener en Onderhouer is. Dankie dat U aan my ouers geleen het. O my Allah, skenk aan hulle die beste plek in die Paradys(Janatul Firdoz), beskou hulle as van U mees geliefde diensknegte, soos wat Mohammed(vvh), U mees geliefde dienskneg was, en aan almal wat oorlede is. Ameen.