2. Hoekom sê ek so?

Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste



Islam Aktueel (2)

deur S'aad Bekker

Miskien het jy dit al raakgesien of dalk wonder jy waar kom ek aan die storie dat die Suid Afrikaanse Christen-Wêreld besig is om in duie te stort en die Christene haweloos en kerkloos gelaat word. Wel, dalk is ek meer bewus daarvan omdat ek uit daardie wêreld kom, toe ek in 2007 'n Moslem geword het. Dalk ook is dit hoekom ek die behoefte raaksien en besef dat as ons as Moslems nie doelbewus gaan uitreik na die Christene om ons, en hulle uitnooi om Moslems te word en by ons aan te sluit nie, hulle baie seer gaan kry en waarskynlik "godloos" gaan opeindig in die waan dat alles wel is terwyl ons as Moslems weet daar kom wel 'n Oordeelsdag: 'n dag waarop elke mens geoordeel gaan word ten opsigte van: of hy of sy die Een, Enkele, Enige God: Allah, gedien en aanbid het of nie. 

Kom ek gee vir jou drie aanhalings uit die Media en een uit die Geloofsbelydenis van die algemene Gereformeerde Kerke, ter verduideliking:

1. Kyk byvoorbeeld na die volgende aanhaling uit die aangehegte artikel: "Kritiese-en nare-blik op die skrif" in Beeld van 2010-02-01 deur die historikus: At van Wyk, waarin hy 'n resensie gee van 'n nuwe geskiedenisboek wat gepubliseer is en wat die "...nuwe geskiedenis van die vroeë Christendom..." beskryf.

Hierdie gewaardeerde artikel deur At van Wyk word gelees deur Christene uit alle vlakke van die samelewing wat elkeen op eiesoortige wyse daarop gaan reageer afhangende van aan watter Kerk hulle behoort of nie, en van hoe wetenskaplik hulle, hul Godsdiens bedryf. 

Die onderstreepte gedeelte stel dit duidelik dat Jesus nie altyd as God beskou was nie maar dat hy met die tyd saam, god gemaak is deur die vroeë Christene. Die probleem is dat 'n eerlike stelling soos hierdie ruk en pluk aan die sekuriteit van die gewone Christen wat nie in sy of haar daaglikse bestaan wetenskaplik met Jesus omgaan nie, maar wat geheel en al vir hulle aardse welsyn en veilige aankoms in die Hiernamaals op Jesus vertrou: 

"’n Probleem van die vroeë Christene was om ’n plek vir Jesus te kry langs of gelyk aan God. Petrus sien Jesus as mens (Engelse Bybel, Handelinge 2:22), Markus en Lukas stel hom laer as God en in Mattheus sê Jesus sy dissipels moet bekeerdes doop in die naam van die Vader, Seun en Gees – sonder klaarheid of die drie figure gelyk is of ’n hiërargie vorm."

Volledige artikel te vinde by: http://www.beeld.com/Content/Vermaak/Nuus/1924/81bcdda058574e50bd2b32eedf57428f/01-02-2010-03-07/Kritiese_%E2%80%93_en_nare_%E2%80%93_blik_op_Skrif,_kerk

2. Om nou te verstaan hoe die gewone Bybelgebruiker oor die Bybel voel kan mens as voorbeeld die volgende aanhaling uit 'n aangehegte brief van 'n leser: "Hou op om die Bybel aan te pas...", gebruik. Die skrywer van die brief protesteer wel oor 'n ander aangeleentheid, maar dit kom eenvoudig daarop neer dat Bybelgebruikers nie die feite in die Bybel betwyfel of wil betwyfel nie, omdat sulke twyfel, hulle enigste sekuriteit in die lewe destabiliseer:
 
"As ons dus nuwe waarhede oor die Bybel begin formuleer om ons nuwe leefstyle te akkommodeer is dit eenvoudig nie die waarhede wat die Bybel verkondig nie."
 
Volledige artikel te vinde by:   http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe/1976/ff6572f6bf2f48049468dff9b337cd15/31-01-2010-10-54/Hou_op_om_Bybel%C2%A0aan_te_pas_by_wat_ons_pas_
 

3. Die laaste artikel wat ek graag vandag as voobeeld wil gebruik is die aangehegte: "God-loos word ons siek..." en ek haal aan:


"Ons vra nou die dag ’n groep mense wat hulle dink die ergste ding is wat die afgelope tien jaar met die Christendom in Suid-Afrika gebeur het. Omtrent 80% van hulle antwoord dat God uit die samelewing verdryf word."

Volledige artikel te vinde by: 

http://www.beeld.com/Content/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/2149/6897423c818f4fdd8dcb15ed51df08f3/27-12-2009-09-42/God-loos_word_ons_siek_  

4. Om die intensiteit waarmee sulke artikels in die Suid Afrikaanse samelewing ontvang word, te verstaan, sal dit jou help as jy die diepte van die emosionele betrokkenheid van onder andere die Gereformeerde Christen in Suid Afrika verstaan. Ek verduidelik:

Tot op die ouderdom van omtrent 18 woon elke kind Katkisasieklas by of Sondagskool soos dit algemeen bekend staan, en een van die Leerstellings, indien nie die mees basiese nie, wat die kinders geleer word en wat diep in  die hart van elke so 'n Katskisant gelê word, is die inleiding tot die Heidelbergse Kategismes wat soos volg lui:

"Sondag 1.

1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort... "  

(Aanhaling met waardering uit: http://www.gksa.org.za/geloof/HBK.htm#_Toc504796661)

Sovêr die aanhalings.

Opsomming:

Ek kan getuig dat hierdie belydenis vir my persoonlik die aller-alles in my lewe was en dat toe ek 'n Moslem geword het, dit vir my die hartseerste gedagte was dat ek nie meer die pragtige belydenis kon bely nie.

Nou as jy dit verstaan: dan verstaan jy waarom ek sê dat die Suid Afrikaanse Afrikaanssprekende Christen in 'n krisis is en ons, Moslems se hulp nodig het. 

Ek ontvang graag u kommentaar hierop en op my Blog of waar ek ook al hierdie artikels gaan plaas.

Alle dank en lof kom Allah toe.

S'aad Bekker

Potchefstroom - 10 Februarie 2010

DIE MEDIA ARTIKELS:

 

Sien die verwysings tussendeur.