'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
1. Die Kerk stort in duie
Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste
Islam Aktueel (1)
deur S'aad Bekker
Hoe gereed is Moslems, dis nou jy en ek, in Suid Afrika, om die Christene wat na 'n nuwe Geestelike Tuiste soek, in Islam te verwelkom en te akkommodeer, met die dat die Geloofswêreld van die Christene, soos wat ek dit ervaar het en in die Suid Afrikaanse Media beleef, al meer en meer uitmekaar val?
Hierdie is 'n onderwerp wat ek sedert ek 'n Moslem geword het baie oor nadink en voortdurend mee gekonfronteer word en dit raak my diep omdat my wortels in hierdie wêreld van die Suid Afrikaanse Gereformeerde en Charismatiese/Pinkster/Wedergeboorte Christen lê en omdat dit jou en my as Moslems en ons roeping tot Sending(Dawah), direk raak.
Ek het ook gewonder hoeveel Moslems weet hiervan? Het jy hiervan geweet? Wel as jy nie eintlik die Afrikaanse Koerante lees nie, sal jy nie hiervan weet nie en is dit baie belangrik dat jy nou hiervan kennis neem, dink ek.
Daarom het ek besluit om te begin om gereeld aan almal wie se epos adresse ek het, hierdie Media artikels te stuur met die doel om vir jou as Moslem of as nie-Moslem bewus te maak daarvan dat, soos ek dit sien:
1. Sekere Christelike Teoloë(Ulama) al meer en meer in die Media die gewone Kerklidmate onder andere bewus maak daarvan dat: Jesus nie God was nie, dat Jesus nie aan die kruis gesterf het vir ons almal se sondes nie en dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie.
2. Ander Christene deelneem aan die gesprekke waarvan sommige natuurlik saamstem en ander verskil, wat te verstane is en baie, baie belangrik is.
3. Christene voor keuses gestel word om een van twee dinge te doen: of van Godsdiens te verander of Ongelowiges te word: met ander woorde ander opsies soos die Wetenskaplike Oplossings of die Evolusieleer(sonder God) as standpunte aan te neem of om Moslems te word.
4. Dat Islam as die Geloof van die Moslems eintlik die enigste werkbare, stabiele opsie en heenkome bied vir Christene wat nie Ongelowig wil word nie, maar aan 'n "Kerk" wil behoort wat wêreldwyd gevestig is, teen 'n redelike tempo groei, en midde in eiesoortige uitdagings, die antwoord besit en aan Christene wil bied.
5. Sodat Moslems hulleself meer kan oriënteer om te verstaaan wat in die Christelike wêreld aan die gebeur is en met empatie met hulle Christen vriende en kollegas kan begin gesels oor hierdie seer en baie sensitiewe onderwerp vir Christene, sodat Christene gehelp kan word om veilig te begin voel met en in Islam.
Onthou : Baie Christene is soos baie Moslems goedgelowige mense en het al die jare as opregte gelowiges geglo wat hulle kerkleiers en die Bybel aan hulle oorgedra het. So, hierdie mense, soos die Christelike Teoloë van ons dag, wat ook eens goedgelowige Christene was voordat hulle al hulle kennis versamel het, is midde in hul eie krisis wat by die dag groter word en wat so goed as moontlik deur alle betrokke partye binne die Christendom beheer word teneinde nie die Christene van Suid Afrika in 'n baie traumatiese Geloofskrisis en emosionele krisis te laat verval nie. Want dit gaan hier oor die psige van 'n volk.
Kom ek gee jou 'n voorbeeld: (en mag God ons almal beskerm...) Stel jou voor Moslems moet hoor dat die profeet Mohammed (vvh) bo alle twyfel nie waarlik die profeet was, wat ons almal glo hy is, nie. Kan jy jou indink hoeveel trauma dit by Moslems sal veroorsaak! Nou, as jy dit verstaan, dan sal jy weet watter enorme krisis die huidige debat en bekentenisse in die Christelike Kerk en Media oor Jesus by Christene veroorsaak.
Christene is potensiële Moslems wat meestal nog nie die volle feite oor Islam gehoor het nie en nog nie die geleentheid gekry het om 'n keuse vir die Boodskap van die Koran te maak nie. Vandag se Christen is dalk, soos Allah wil, die Moslem wat more saam met jou in die Moskee gaan aanbid. Dit is dus baie belangrik dat ons almal aan Christene begin dink as ons toekomstige Moslembroers en -Susters, wat deur ons liefdevol gehelp moet word om hul keuse te maak. En indien hulle dan sou besluit om teen Islam te kies, moet ons steeds liefdevol en met respek en verdraagsaam teenoor hierdie mense optree: want vandag se nee kan more ja wees! Soos Allah wil.
Allah roep ons dus op tot diens: om as Moslems binne die Suid Afrikaanse konteks namens Hom met baie liefde en deernis uit te reik na ons Christenvriende, Christenkliënte, Christenkollegas en wie ook al ons pad kruis as mede reisigers op die lewenspad.
Ek ontvang graag u kommentaar hier en op my Blog of waar ek ook al hierdie artikels gaan plaas.
Alle dank en lof kom Allah toe.
S'aad Bekker
Potchefstroom - 23 Desember 2009
DIE MEDIA ARTIKELS:
Sien die aangehegte artikel hierbo of kliek op die volgende verwysing om dit direk in die Media te lees:
1. In die volgende artikel: "Nuwe Wyn Nuwe Sakke" sal u onder andere sien hoe die feite rondom Jesus beskou word: kliek op die volgende verwysing:
2. Hierdie artikel: "God bepaal klimaatsverandering..." wys hoe ryp die Christendom is ten opsigte van een van die Geloofsartikels van Islam en dit is dat God nie onbetrokke* is by Sy Skepping nie(*Sien ook: "Wat glo Moslems" by www.koraninafrikaans.com). Kliek op die volgende verwysing vir artikel: