'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
D. Hoe word ek...?
Moslemword is seker maar net soos Katkisasie en Belydenis van Geloof of om groot Gedoop te word:
Maak hierdie eenvoudige verklaring uit die diepte van jou hart. Deur dit so te doen verklaar jy jou geloof in die Enige God en in die Boodskappe soos vervat in die Geskrifte in oorspronklike formaat, wat al die Profete en Boodskappers gebring het:
"Daar is geen god anders as Allah nie, en Mohammed is die dienskneg en boodskapper van Allah"
STOP! doen jouself 'n guns en lees eers hieronder. Jy kan weer terugkom en jou belydenis aflê maar lees eers hier onder...
1. Maak seker jy verstaan wat ware Islam behels: lees hierdie webtuiste eers goed deur, lees alles wat jy kan kry oor Islam, maar moenie alles glo nie: vra God om jou te lei, en kry verkieslik vir jou 'n Moulana(Predikant/Pastoor) van jou plaaslike Moslemgemeente om die pad saam met jou te loop en al jou vrae te antwoord, totdat jy baie seker is.
2. Ondersoek jou hart en bepaal of jy jouself met Islam kan assosieer, veral met die eerste Geloofsartikel wat basies bepaal: "Moslems glo dat God Enig is en dat God nie vennote het nie."
3. Bereken die prys wat dit jou gaan kos om 'n Moslem te wees, en nou praat ek nie van geld nie, ek verwys byvoorbeeld na:
3. 1. Jy sal nie meer kan glo dat Jesus die seun van God is nie: slegs dat Jesus een van die gerespekteerde Profete en Boodskappers was, soos Adam, Noag, Moses en Abraham, Johannes en Mohammed ensovoorts.
3.2 Jy sal moet aanvaar dat jou Christenvriende nie gaan dink dat jy baie snaaks is nie, ook nie jou familie, gesin, Kerk of Dominie/Pastoor nie.
3.3 Alhoewel niemand teen jou kan diskrimineer oor jou nuwe geloof nie, sal jy moet besef dat mense bly mense en dat hulle jou snaaks gaan aankyk,maar as jy net jou ou self bly, sal hulle algou agterkom dat jy steeds hulle respek waardig is.
3.5 Jy sal bereid moet wees om jou Bybel te vervang met die Koran, en dis hoekom ek vir jou 'n heerlike vars nuwe lekker gebruikersvriendelike vertaling maak wat ek noem: "Die Boodskap van die Koran" Lees dit, dit is spesiaal vir jou en vir die Plesier van Allah.
3.6 Jou gewone ondersteuningsbasis gaan soos mis voor die son verdwyn en jy sal 'n nuwe een moet opbou, wat dit ookal was in jou geval.
3.7 Jy sal baie ure moet insit in die bestudering van jou nuwe Godsdiens want onthou Islam is anders en alhoewel baie van die vreemdheid kultureel van aard is, en nie verpligtend op jou nie, is daar tog eiesoortige karaktertrekke wat jy sal moet leer ken en beoefen doodeenvoudig omdat dit is hoe Allah Homself aan Moslems geopenbaar het en hoe Hy skynbaar wil hê dat ons Hom moet Aanbid. Maak seker jy verstaan alles sodat jy dit met jou hele hart kan doen.
3.8 Vraag 1: Die belangrikste vraag: Vir wie wil jy 'n Moslem word? As jy dit nie vir die Plesier van jou God wil word nie, los sommer nou! Islam gaan uitsluitlik oor Allah en as jy enigsins twyfel oor jou motiewe, gaan dink eers mooi na. Indien jy dit wel net vir die Plesier van Allah doen, besluit dat jy van die oomblik dat jy die belydenis aflê na die beste van jou vermoë die beste Moslem gaan wees wat jy kan wees: net vir Allah en soos wat Hy jou lei. Punt.
En dan maak jy daai keuse en jy leef net vir Allah deur jou oog op Hom te hou, nie agter mense aan te loop nie en te doen wat Hy persoonlik van jou vra, want van daardie oomblik af is jy uitsluitlik in Sy diens: in diens van die Koning van die Heelal.
Ek sal graag jou vrae beantwoord soos die Moulana van jou Moslemgemeente maar die besluit en die opvolgbesluite en keuses en Moslemlewenskwalitiet lê uitsluitlik by jouself... en by Allah.
Is dit moeilik? Verseker!
Is dit maklik? Jy sal nie glo nie!
Is dit verwarrend? Soos in 'n tuimeldroër!
Twyfel mens dikwels oor jou besluit? Wel was jy altyd seker van jou saak toe jy nie 'n Moslem was nie? "Geloof is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop..." moenie vergeet nie... hoop het geen konkrete bewyse nie... jy weet maar net wat jy weet, wat jy weet, wat jy weet, wat jy weet... en niemand kan jou anders oortuig nie...
Sal ek ooit omdraai? Verkeerde vraag! Die vraag is: "Wat wil Allah hê moet ek doen? Wat is die Wil van Allah vir my lewe?"
Mag Allah, jou Skepper, Voorsiener en Onderhouer wat jou hier laat lees en jou tot hiertoe gebring het self vir jou die sekerheid gee om wat jy ook al besluit as Sy wil te ervaar...
En as jy oortuig is dit is wat jy wil doen, sal dit beter wees as jy hierdie pragtige, wonderlike, bevrydende verklaring saam met jou Moulana van jou nuwe Moslemgemeente doen in die teenwoordigheid van almal in die Moskee soos wat en hoe jy en jou Moulana ooreengekom het. Kry vir jou 'n Moulana wat jy vertrou en waarvan jy hou en stap die pad saam met hom of wie hy aanbeveel om jou geestelike mentor te wees: dit is net beter:
Sê dit, jubel dit, skreeu dit uit dat die berge kan hoor dat jy die sleutel tot die Koninkryk van God en Geloofsekerheid ontdek het:
"Daar is geen god anders as Allah nie, en Mohammed is die dienskneg en boodskapper van Allah"
____________________________________________
sê tog maar vir my ook daarvan, want dit is altyd lekker om te hoor van mense wat Allah die Enigste God in hulle lewe gemaak het...
Met baie liefde,
S'aad