4.4 Die Pelgrimsreis

 

4.4 Die Pelgrimsreis

 

Die Pelgrimstog, beter bekend by Moslems as “Hajj” word onderneem na Mekka in Saoedi Arabië en is as Aanbiddingsdaad verpligtend vir die Moslem ten minste een maal in sy of haar leeftyd op voorwaarde dat die Pelgrimsganger of “Hajjee” verstandelik, fisies en finansieel daartoe in staat is.

 

Dit is die grootste jaarlikse godsdienstige konvensie ter wêreld.

 

Die dominante tema tydens die Pelgrimstog is Vrede. Vrede met Allah, vrede met die siel, vrede met mekaar en vrede met alle lewende wesens. Om die vrede van enigiemand of enigiets te versteur is streng verbode.

 

Moslems vanuit al die vlakke van die samelewing en vanaf elke denkbare hoekie van die aarde kom bymekaar in Mekka in reaksie op die oproep deur Allah. Moslems glo ook dat Allah elke Pelgrimsganger persoonlik oproep wanneer die tyd daarvoor reg is binne die Wil van Allah, en dit dan vir daardie persoon moontlik maak om te gaan vandaar dat 'n Pelgrimsganger byvoorbeeld geen skuld mag hê nie en eerder nooit die Pelgrimstog moet maak nie as wat hy of sy dit sou onderneem, maar nie binne reëls wat Allah self daargestel het, nie.

 

Die Pelgrimstog het ten doel om die Goddelike Rituele van die Profeet Abraham en sy seun Ismael te gedenk, wat die eerste Pelgrims was wat die tog na die Kaaba in Mekka gemaak het. Die Kaaba word deur Moslems as die Huis van Allah op aarde beskou.

 

Maar die praktyke en rituele wil ook die Pelgrimsganger herinner aan die Oordeelsdag wat nog voorlê vir ons almal, waartydens alle mense gelykwaardig voor Allah sal staan.

 

Moslems gaan op die pelgrimstog na Mekka uitsluitlik vir die Glorie, Heerlikheid en Eer van Allah en nie om “'n man te aanbid” nie, soos wat sommige oningeligte buitestaanders skynbaar glo, nie.

 

Daarom is 'n besoek wat Moslems bring aan die graftombe van die Profeet Mohammed in Medina slegs hoogs aanbeveel maar nie essensieel in die voltooiing van die Pelgrimstog nie en is dit ook nie 'n bepalende faktor in die geldigheid van 'n Moslem se pelgrimstog nie.