4.3 Armeversorging

 

4.3 Armebelasting vir die versorging van die Armes

 

Armebelasting behels die finansiële en materiële versorging van die armes en word beskou as 'n Aanbiddingsdaad en 'n geestelike belegging.

 

Die letterlike betekenis van die Arabiese woord vir Armebelasting: “Zakaat” of “Zakah” is “reinheid” en verwys na die jaarlikse waarde in geld of goedere wat 'n Moslem, met die vermoë om dit te kan doen, onder die regmatige ontvangers daarvan moet uitdeel.

 

Armebelasting word nie net beskou as 'n rituele reiniging van die eiendom van die gewer daarvan nie, maar dit reinig ook die hart van die gewer daarvan van selfsug en inhaligheid.

 

Dit reinig ook die hart van die ontvanger daarvan, van afguns en jaloesie, haat en ongelukkigheid en kweek in die plek daarvan gevoelens van dankbaarheid, goedgesindheid en goeie wense teenoor die gewers daarvan.

 

Armebelasting het 'n diep menslike en sosiaal-politieke waarde deurdat dit die gemeenskap bevry van klasstrukture wat kan lei tot gevoelens van wantroue en korrupsie tot gevolg kan hê.

 

Alhoewel Islam nie private ondernemings verhinder nie of private besittings afkeur nie, verdra dit nie die selfsugtig en hebsug van kapitalisme nie.

 

Islam is 'n voorstaander van 'n gematigde maar positiewe en effektiewe balans tussen die indiwidu en die gemeenskap, tussen die burger en die staat, tussen kapitalisme en sosialisme, tussen materialisme en geestelikheid.

 

Armebelasting word bereken as 2,5% op die oorskot of netto balans van die inkomste van 'n Moslem na aftrekking van die basiese lewensbehoeftes en verpligtinge en as 2,5% op die 'n bepaalde kwaliteit van goud en goue juweliersware wat 'n Moslem besit, teen die heersende goudprys.

 

Die ontvangers van Zakaat sluit in: Die armes, behoeftiges, nuwe Moslem lidmate of “Reverts” soos wat in die algemene spreektaal na nuwe Moslems verwys word, krygsgevangenis teneinde hulle los te koop en Moslems wat in die skuld is. Die werknemers verantwoordelik vir die insameling van die Armebelasting, die Moslems wat betrokke is by die navorsing, bestudering of verkondiging van Islam, en reisigers wat sukkel om hul bestemming te bereik.

 

Inkomstebelasting wat aan die regering betaal moet word kwalifiseer nie as Armebelasting nie en vervang nie hierdie godsdienstige verantwoordelikheid nie.

 

Die gewers van Armebelasting moenie daardeur trots of beroemdheid vir hulleself wil verwerf nie, en moet dit liewer in die geheim doen. Maar indien die bekendmaking van hul bydraes ander wat hierdie verpligte Aanbiddingsdaad nalaat, kan aanmoedig om ook hul Armebelasting te gee, is dit aanvaarbaar.