'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
4.1 Aanbidding & Gebed
4. Die Praktiese Toepassing van Islam Allah het vier hoof Godsdiensoefeninge neergelê waardeur 'n Moslem sy of haar Geloof beoefen, en waarvan sommige daagliks, weekliks, maandeliks of jaarliks en een ten minste eenmaal in die leeftyd van 'n Moslem uitgevoer behoort te word. Hierdie Godsdienspraktyke of maniere, waarop die Moslem sy of haar geloof beoefen is bedoel om die mens se geestelike doelwitte te bedien, om die mens se behoeftes te bevredig en aan die hele lewe van die mens 'n sin van Goddelike betrokkenheid te gee. Dit behels die volgende: 4.1 Aanbidding en Gebed (Salaat / Salaah / Namaaz en Dua) Die beginsel van: “Gebed” het in Islam twee duidelik onderskeibare fasette: Aanbidding: waartydens die Moslem uitsluitlik op die voorgeskrewe manier die Skepper, Voorsiener en Onderhouer van die Heelal as God aanbid. Gebed: waartydens die Moslem op die meer bekende manier van bid, deur middel van voorgestelde gebede of op eiesoortige wyse sy dank, lofprysing en versoeke tot sy Skepper, Voorsiener en Onderhouer rig... Om gereeld daagliks die Skepper te Aanbid, en tot die Skepper te Bid, is die beste manier om in 'n mens 'n vaste karakter te kweek en om dit waarna die mens streef en graag wil hê te verwesenlik. Moslems besef egter dat Allah nie die mens se Aanbidding nodig nie, want Hy is vry van alle behoeftes. Maar, die Moslem besef ook dat sy of haar Aanbidding is tot sy of haar eie voordeel. Hierdie voordele is onmeetbaar groot en die seëninge wat daaruit voortspruit oortref die verbeelding. En hierdie is een van daardie dinge in die lewe wat mens eers waarlik besef wanneer jy dit ervaar. Wanneer 'n Moslem Aanbid word elke spier in die liggaam betrek by die verering en verheerliking van Allah deur die siel en die verstand. Selfs die Gebed van 'n Moslem behels dus nie net Gebed nie maar word 'n daad van Aanbidding. Aanbidding in Islam is 'n geformuleerde kombinasie van intellektuele meditasie en geestelike toewyding, morele verheffing en fisiese oefening sonder gelyke: baie eenvoudig maar hoogs effektief. Aanbidding is verpligtend vir elke Moslem wat geestesgesond en volwasse is, en in die geval van 'n vrou, nie menstrueer nie, en nie meer bloei indien sy geboorte geskenk het nie. Aanbidding het sekere voorvereistes: Meerdere Reinheid: Die Aanbidder moet liggaamlik, in geheel gereinig wees indien hy of sy sedert die laaste Aanbiddingsessie enige vorm van seks beleef het of gemenstrueer het, of gebloei het as gevolg van geboorte, wat basies behels dat die Aanbidder die hele liggaam gebad of gestort het en die rituele reiniging tydens die bad uitgevoer het. Moslems verwys in die algemeen daarna as: “Ghusl” en die gedagte hier is maar net dat die Aanbidder skoon en netjies en sonder enige onaangename reuke saam met mede Aanbidders in die Moskee of alleen in sy of haar binnekamer voor Allah sal verskyn om te Aanbid. Mindere Reinheid: Die Aanbidder moet indien hy of sy wel steeds liggaamlik gereinig is ook basies gereinig wees indien hy of sy sedert byvoorbeeld die laaste Aanbiddingsessie die toilet gebruik het, ensovoorts, wat basies behels dat die Aanbidder net sekere dele bepaalde van die liggaam gewas het en die basiese rituele reiniging uitgevoer het. Die idee hier is ook dat die Aanbidder skoon, netjies en welriekend in Aanbidding sal gaan. Skoon en Beskeie Kleding: Die klere van die Aanbidder moet skoon wees en die Aanbidder moet behoorlik geklee wees sodat ten minste bepaalde dele van die manlike of vroulike Aanbidder bedek is. Terwyl daar nie van Aanbidders voorskriftelik verwag word om noodwendig elke dag, vyf maal op 'n dag in hulle beste klere te Aanbid nie en daar ruimte gelaat word vir indiwiduele persoonlikheid, smaak en kultuureie voorkeure word Moslems tog aangemoedig om in navolging van die hoogs gewaardeerde gewoontes en voorskrifte van die Profeet Mohammed wat as rolmodel beskou word, aan te trek. Maar weereens: Aanbidders moenie toelaat dat enige skuldgevoelens oor hulle kleding hulle dalk weerhou daarvan om gereeld en met toewyding voor die God van die Heelal in Aanbidding te verskyn nie: Allah ken die harte van Aanbidders en opregtheid van hart dra 'n baie hoë waarde by Allah. Skoon Aanbiddingsplek: Die plek van Aanbidding moet skoon wees en geskik wees daarvoor. Soos wat onlangs die geval in die paleis van die Koningin van Engeland was, kan Moslems met openhartigheid vir hulle werkgewers vra vir 'n geskikte plekkie waar hulle tydens byvoorbeeld die Middag-etensuurgebed kan Aanbid indien dit nie vir hulle moontlik is om na die Moskee of huistoe te gaan nie. Islam is so besig om te groei die wêreld oor en nie-Moslems raak al meer bewus van die behoeftes van Moslems soos wat ons juis met hierdie Webtuiste beoog, dat Moslems nie meer skaam hoef te wees vir wie hulle is en wat hulle Godsdiens behels nie. Ek lees juis net vanoggend in 'n e-pos van Laura Pistorius, Radio Programaanbieder in die Weskaap, wat op die Blogs bekend is as “Musleema” en hoe sy, toe sy 'n Moslem geword het in 2007 by haar toekomstige werkgewer, 'n Wedergebore Christen, toestemming gekry het vir aftyd om te kan Aanbid. Jy sien dit is mense soos sy en jy en ek wat wanneer ons toegewyde Moslems word, deur Allah gebruik word om weer die deure vir ander Moslems en toekomstige Moslems oop te maak. Bepaalde Aanbiddingsrigting: Moslems aanbid in 'n spesifieke rigting omdat Allah dit so in die Koran beveel het. Gaan lees bietjie in die Koran 2:142 sommer hier langsaan in die: “Boodskap van die Koran” wat ons juis vir jou gerief hier geplaas het. Dan sal jy sien dat die Profeet Mohammed(vvh) nie sommer eendag dit goed gedink het dat alle Moslems nou skielik in die rigting van Mekka moet Aanbid nie: nee, Allah het dit so “goed geag.” En Allah weet mos maar altyd die beste, is dit nie? Nouja, die rigting van die Kaaba in Mekka moet bepaal wees sodat die Aanbidder weet in watter rigting om te Aanbid. Hierdie rigting word genoem die: “Qiblah” en word bepaal volgens elke Aanbidder se spesifieke posisie op aarde maar is basies Noord of enige noordelike rigting tussen Oos en Wes vanwaar ons in Suid Afrika in verhouding tot Mekka geposisioneer is. Moslems noord van Mekka sal dus in 'n suidelike rigting êrens tussen Oos en Wes Aanbid as hulle nie 'n kompas het of die presiese rigting weet nie. Stille Verklaring van Voorneme: Die Aanbidder moet sy of haar Voorneme om te Aanbid stil in sy of haar hart verklaar. Sjoe ek is nou sommer moeg getik aan al hierdie skynbare ou reëls en regulasies, maar gelukkig klink dit dalk vir jou veel erger as wat dit is. Eintlik kom dit eenvoudig maar net neer op die basiese beginsels van skoon en netjies en ordelik, vir jou vyf daaglikse afsprake met die Koning van die Heelal. Dis maar al! Die vyf daaglikse Aanbiddingsessies elk behels: 1. Die Aanbidding wat verpligtend is: Elke Moslem, wat kwalifiseer, is verplig, om in opdrag van Allah, vyf keer per dag voor Hom in Aanbidding te verskyn, asook op Vrydae tydens die Gemeentelike byeenkoms en Gemeentelike Aanbidding en ook deel te neem aan die Aanbidding tydens Begrafnisse. In die Moskee sal hierdie Aanbidding saam met die ander Aanbidders onder leiding van 'n kundige mede gelowige of die Geestelike Leier (Imam) gedoen word. 2. Die Aanbidding wat hoogs aanbeveel is: Hierdie is die Aanbidding wat voor of na die verpligte Aanbidding gedurende dieselfde sessie deur die in indiwiduele Aanbidder gedoen behoort te word asook tydens die twee groot Feesgeleenthede algemeen bekend as die twee “Eid” 3. Die Aanbidding wat opsioneel is: Hierdie behels die opsionele en vrywillige Aanbidding gedurende die dag en die nag. Verpligte Aanbiddingstye: 1. Vroeg in die oggend na dagbreek maar voor sonop: Onthou jy nog die spreekwoord: “Die morestond het goud in die mond?” Nouja dit is tydens hierdie Aanbiddingsessie, wanneer die voëltjies net begin gesels het en die sonnetjie net, net die donker van die nag begin verdryf, wat 'n Moslem die waarde van hierdie spreekwoord ervaar as hy voor sy Allah neerkniel en in Aanbidding sy krag vir die dag se uitdagings kry. Dan, wanneer hy net na die Aanbidding by die Moskee uitstap terwyl die morester net-net begin verdwyn en hy diep asemteue van die vars oggendlug inasem dan weet hy: vandag hoef ek nie alleen te stap nie, Allah is met my... 2. Tydens die middag etensuur wanneer die son net vanaf sy hoogste punt verskuif het maar indien die Aanbidder nie dadelik kan Aanbid nie, het hy of sy tyd totdat die son so die halfpadmerk op pad na sononder toe, bereik het: So, hier het die Aanbidder darem 'n bietjie tyd om dit by sy program in te pas alhoewel dit verkieslik is dat 'n Moslem al die Aanbidding eerder op die vasgestelde tye in die Moskee saam met die ander gemeentelede sal doen. 3. Gedurende die laatmiddag wanneer die son by die halfpadmerk van die middag verby is tot en met sononder. Hierdie Aanbiddingsessie is nogal 'n uitdaging vir Moslems juis omdat dit skynbaar 'n baie winsgewende tyd vir Winkeleienaars is en ook die tyd is wanneer mense na werk gou 'n paar inkopies wil gaan doen voordat hulle huistoe gaan of dalk 'n bus of 'n trein moet haal... Alhoewel Moslems altyd aangemoedig word om 'n plan te maak sodat hulle tog maar al die Aanbiddingsessie sal bywoon en Allah deur die Koran, interessant genoeg, juis hierdie Aanbiddingsessie uitsonder as die een wat nie verwaarloos moet word nie (K2:238), het Allah, die Opdraggewer van hierdie Aanbiddingsessies tog voorsiening gemaak daarvoor dat 'n Moslem enige Aanbiddingsessie kan opvang deur middel van die: “Aanvullende Aanbidding” of “Qadha”. Sien die bespreking hiervan 'n bietjie verder. 4. Met sononder direk nadat die son gesak het totdat die rooi gloed op die westelike horison verdwyn. Weereens word grasie verleen aan die Moslems wat weens verpligtinge nie anders kan as om die Aanbidding 'n bietjie later as die voorgeskrewe tyd saam met die gemeente in die Moskee te doen nie. Allah ken die harte van mense en staan nie onverskillig teenoor die uitdagings waarmee mense elke dag te doen het nie: daarom kan elke Moslem met opregtheid sy of haar godsdiens uitleef binne die liefde, begrip en genade van Allah.
5. Die Aandaanbidding waarvan die tyd begin na afloop van die tyd vir die Sononderaanbidding tot dagbreek.
6. Aanvullende Aanbidding is daargestel teneinde die Aanbidder in staat te stel om 'n Aanbiddingsessie wat gemis was, na afloop van die tyd wat daarvoor bepaal was, na te kom.
Addisionele Vrywillige Aanbidding
Behels die vrywillige Aanbidding gedurende die nag en staan algemeen bekend as "Tahajjud"
Nalatigheid
Dit word as 'n baie groot sonde beskou as 'n Aanbidder nalatig is ten opsigte van Aanbidding en indien dit sonder 'n geldige rede vertraag word, want onthou: Allah self het die bevele ten opsigte van die Aanbidding gegee.
Daarom is dit belangrik dat Verpligte Aanbidding wat gemis was en waarvan die toegelate tyd reeds verstryk het, sonder verdere vertraging opgevang sal word. Om die Aanvullende Aanbidding te vertraag word ook as 'n sonde beskou.
Omdat hierdie bespreking slegs van inleidende aard is sal hierdie onderwerp ook later in diepte bespreek word, so Allah wil.
Algemene basiese gedagtes rondom die Aanbidding:
Aanbidding moet verkieslik op die vasgestelde tye gedoen word, tensy daar 'n redelike verskoning is. Verpligte Aanbidding wat om een of ander rede nie op tyd gedoen kan word nie, moet ingehaal word op die bepaalde manier.
Aanbidding behels voorgeskrewe fisiese bewegings saam met die stille uitspreek van die Aanbidding wat onder andere die voordra van gememoriseerde dele van die Koran insluit.
Bykomend tot- en na afloop van die voorgeskrewe Aanbidding, bid die Moslem ook dan en dit is dan wanneer 'n Moslem sy of haar dank uitspreek teenoor Allah vir al Sy gunste en gawes en vra vir Sy genadige voorsiening in alle behoeftes... ag dis dan wanneer mens sommer jou hart oopmaak voor Allah en met bakhande voor Hom jou blydskap of bekommernis, jou gedagtes en behoeftes uitstort, wetende dat as daar iemand is wat hoor, as daar iemand is wat iets aan die situasie kan doen, dan is dit Hy, die Skepper, Voorsiener en Instandhouer...
Dis dan ook hier wat die trane dikwels loop... juis omdat mens deur die Aanbidding so aangegryp word deur die Almag van die een wat Aanbid word... dat jy jou afhanklikheid weer en weer, meer en meer besef...
Ja, en die Moslem bid ook by omtrent elke geleentheid in sy of haar lewe soos byvoorbeeld by die geboorte van 'n kind, huwelike, slaaptyd en opstaantyd, tydens vertrek en aankoms by die huis, met die begin van 'n reis en by aankoms in byvoorbeeld 'n stad, voor en na afloop van 'n ete of drinke, tydens oestyd vir die boere, en wanneer die begraafplaas besoek word en in tye van ontsteltenis en siekte...
...en dis mos reg want hoe sal die Gelowige dan sy of haar lewe, kan lewe sonder om sy of haar Skepper, Voorsiener en Onderhouer in alles te erken en te ken...?
Aanbidding en gebed is dus vir die Moslem 'n lewenswyse... 'n manier van dink... en dit is diensknegwees in die Koninkryk van die Allah!