3.14 God se Woorde

 

3.14 'n Moslem glo dat die Koran die Woord van Allah is en dat dit deur middel van die Engel Gabriël aan Mohammed geopenbaar was.

 

Die Koran is oor 'n tydperk van byna drie en twintig jaar deur Allah aan die profeet Mohammed geopenbaar, deur middel van die Engel Gabriël wat Allah se Woorde net so Woord vir Woord aan hom oorgedra het.

 

Die Openbarings of Boodskappe van Allah af was meesal gegee in die vorm van antwoorde op vrae wat die Profeet en sy mense gevra het, oplossings en leiding vir probleme waarvoor hulle raad en advies benodig het, en dan ook natuurlik met die doel om aan die mens die beste Handleiding moontlik te verskaf.

 

Moslems glo daarom dat die Koran die Woord van Allah is vir toe en vir vandag en dat Allah wil hê dat ons sal glo dat dit Sy onveranderde Woord is, wat Hy wil hê ook vandag, soos toe, vir ons as riglyn en Handleiding vir ons lewens sal dien.

 

Nou, wie sal nou 'n beter Handleiding kan verskaf as die Een wat die mens gemaak het, die Een wat aan die mens elke dag voorsien wat hy nodig het en die Een wat dit alles in stand hou?

 

Ja wie sal 'n beter Handleiding kan verskaf aan alle mense van alle tye, as die Een wat aan Abraham sy eietydse Handleiding verskaf het, aan Dawid syne, aan Moses syne, en aan Jesus syne?

 

Lesers van die Koran moet egter in gedagte hou dat die Koran nie 'n geskiedenisboek is nie. Onthou dit bevat Allah se Woorde aan mense wat midde in die situasies was waarvoor die spesifieke Woorde en Boodskap nodig was: mense wat goed bekend was met die “feite van die saak” wat gevolglik nie noodwendig ook in die Koran aangeteken is nie.

 

Daarom kan oningeligte lesers maklik die Koran as 'n onverstaanbare Boek afmaak of die idee kry dat dit meesal net herhalings van dele van die Ou Testament en die Nuwe Testament bevat en dat die profeet eintlik plagiaat gepleeg het. 'n Mens kan maar net na die debatte op die Blogs en die Internet kyk om te sien dat lesers weens hul oningeligte opregtheid presies hierdie verkeerde indruk kry.

 

Feit is egter dat waar na gebeure uit die Bybel verwys word, soos die verhale van Noag en Moses dit gedoen word om:

enersyds in konteks as voorbeelde te dien van hoe Allah met daardie mense gehandel het met die oog daarop om die hoorders van Mohammed se tyd en alle mense daarna aan te moedig om nie dieselfde foute te maak nie en lesse daaruit te leer, en

tweedens om feitelike foute en dwalings wat deur jare se misbruik, verdraaiing en verdoeseling van die oorspronklike geskrifte van die Bybel, reg te stel.

 

En dit is juis hoekom ek met die hulp van Allah 'n heerlike vars nuwe Afrikaanse vertaling probeer maak wat aan my en enige ander leser, so Allah wil, 'n duidelike beeld sal gee van die betekenis van elke vers.

 

Mag dit die Wil van Allah wees.

 

Die Koran was in Arabies geopenbaar en Moslems glo dat dit steeds vandag in die oorspronklike- en volledige Arabiese weergawe beskikbaar is. Die oorspronklike weergawe word dan ook sover moontlik volledig deur elke Moslem gememoriseer.