3.11 Redding & Verlossing

 

3.11 'n Moslem glo dat die mens moet sy eie redding en verlossing uitwerk aan die hand van Allah se leiding.

 

Wag! Moenie skrik nie!

 

Vir Christene klink dit baie erger as wat dit eintlik is, want, vra jy dalk: “Hoe op die aarde gaan ek myself verlos kry, daarvoor is ek heeltemal 'n te groot sondaar.”

 

Nee, wag 'n bietjie.

 

Jy kyk deur die verkeerde bril: ons sal eers vir jou 'n nuwe bril moet opsit, 'n meer korrekte bril, want die bril wat jy nou nog op het as Christen is 'n vals bril gebaseer op valse leerstellings...

 

Wag! Moenie aanstoot neem nie, ek kraak nie jou godsdiens af nie, wag net so bietjie, ek gaan mooi vir jou verduidelik en jy kan self ook daaroor wyer gaan nalees, dan sal jy sien wat ek sê,

 

asseblief... gee my net kans...

 

Eerstens: as Christen glo jy waarskynlik in die erfsonde, wat 'n verkeerde leerstelling is en van jou, sommer van kleins af, 'n slaaf van jou voorouers se sondes maak en bydrae tot jou onnodige skuldgevoelens en skuld komplekse.

 

Tweedens is dit wat Allah van jou verwag, sodat jy daardeur jou redding en verlossing kan uitwerk, gebaseer op dit wat eintlik goed en gesond is vir jou. So dit is nie eksterne reëls en regulasies bedoel om jou soos eksamens te evalueer nie, maar dit is bedoel om aan jou 'n gesonde lewenswyse te gee en dit is bedoel om jou in 'n goeie verhouding met jou Skepper, Voorsiener en Onderhouer te bring waarin jy dan binne die Wil van Allah vir jou lewe, kan lewe en die Regte Weg bewandel.

 

Dit gaan net maar oor die regte keuses en die lewe is mos maar een groot bondel keuses, is dit nie?

 

Dis al, en dis so maklik as val uit 'n boom uit.

 

Die oorspronklike bedoeling van Moslemwees was nie om jou te oorlaai nie maar juis om jou te red en te verlos van die slegte gewoontes, verkeerde keuses en die gevolge van daardie verkeerde keuses.

 

Onthou ons is almal net maar mense met ons eie persoonlikhede. Daarom moet mens seker ook versigtig wees vir jouself dat mens nie dalk te hoë eise aan jouself en ander stel nie.

 

Maar wees verseker daarvan dat as jy op Allah vertrou vir die regte leiding Hy dit aan jou gaan gee. Oefen net jou ore en oë om Sy Stem te kan hoor en Sy leiding te kan sien en te kan onderskei...

 

Moslems glo ook dat een mens nie vir 'n ander by Allah kan intree of namens 'n ander mens met Allah kan onderhandel nie. Elke mens dink, lewe en staan alleen voor Allah, hier op aarde en met die Oordeelsdag.

 

Ten einde dus redding of verlossing te verkry moet die mens geloof kombineer met optrede, en dit wat hy of sy glo kombineer met die praktiese toepassing daarvan. Geloof in Allah sonder die voortspruitende goeie dade is nutteloos: so ook kan iemand goeie dade doen maar as Hy of Sy nie in Allah glo nie, het daardie goeie dade geen ewigheidswaarde nie.