'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
3.8 Die Mens
3.8 'n Moslem glo dat die mens, dis nou jy, geniet 'n besondere hoë status in die hiërargie van alles wat geskape is. Daarom moet ek sommer nou net hier vir jou sê, net vir ingeval jy dit nie weet nie of niemand dit nog ooit vir jou gesê het, of indien jy dit dalk nie glo nie: Allah het jou baie, baie lief. So, hoe gouer jy dit gaan begin glo hoe beter vir jou: want as jy dit nie glo nie, dan mis jy uit op baie wonderlike ervarings saam met Allah in Sy die Koninkryk hier op aarde en in die Hiernamaals. En as jy dit reeds glo dan deel ons twee 'n geheim wat die lesers wat dit nog nie glo nie, nooit sal weet nie totdat hulle dit begin glo en die gevolge van hulle geloof begin ervaar, nè. Of wat sê ek? Jy sien, dit werk soos 'n skatkis: jy weet eers regtig wat in die skatkis is, wanneer jy die skatkis oopsluit, die deksel oplig en na jou asem snak wanneer jy sien wat regtig daarin is... Die mens beklee hierdie vername en geëerde posisie omdat slegs die mens toegerus is met die gawes van rasionele denke, die vermoë om daarvolgens te kan optree en die vermoë tot geestelike hunkering en strewe... Die mens is nie 'n gedoemde ras nie, maar 'n waardige wese wat potensieel in staat is tot die goeie en tot eerbare prestasies. So, net vir in geval jy dalk aan een of ander minderwaardigheidskompleks lei: nou is die tyd om op te staan, jou kop op te lig en jou plek in te neem as gewaardeerde en geëerde dienskneg van die Koning in die Koninkryk van die Heelal. Onthou, jy is nie sommer enige dienskneg nie nè, jy is dienskneg van die Koning van die Heelal, die Een wat alles gemaak het, die een wat ook alles wat Hy gemaak het van dit wat nodig is Voorsien en die een wat dit alles Onderhou. Wao!