'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
3.5 Die Oordeelsdag
3.5 'n Moslem glo in die Oordeelsdag. Moslems glo dat die wêreld soos wat ons dit nou ken sal tot 'n einde kom waarna diegene wat dood is weer lewendig sal word om voor Allah te staan vir die finale en regverdige verhoor. Alles wat ons sê en doen, maak, beplan en dink word op rekord geplaas. Met die Oordeelsdag sal dit alles openbaar gemaak word. (K2:48) Die mense met goeie rekords sal ruimskoots beloon en hartlik verwelkom word in Allah se Paradys of Hemel. Maar die mense met slegte rekords sal regverdig gestraf word en in die Hel gegooi word. Die ware aard van die Hemel en die Hel is slegs aan Allah bekend, maar word deur Allah in die Koran beskryf in terminologie wat die mens kan verstaan. Soos inderdaad dalk met baie konsepte in Islam die geval is. Maar Allah weet die beste. Alhoewel dit soms vir die mens kan voorkom asof goeie dade nie ten volle in hierdie lewe waardeer en beloon word nie, kan die mens verseker wees daarvan dat diegene wat in Allah glo en die goeie doen, met die Oordeelsdag die volle vergoeding en wye erkenning sal ontvang. Indien dit ook vir 'n mens voorkom asof ander mense wat sonde doen en Allah verwaarloos en hulleself oorgee aan immorele optrede, skynbaar baie suksesvol is en vooruitgaan in hierdie lewe, moet hulle egter weet dat absolute geregtigheid sal geskied met die Oordeelsdag wanneer elkeen 'n regverdige beloning of vergelding sal ontvang volgens sy of haar optrede. En net Allah alleen weet wanneer hierdie Oordeelsdag sal plaasvind.