3.3 Geskrifte en Openbarings

 

3.3 'n Moslem glo in alle geskrifte en openbarings van Allah, soos wat dit oorspronklik was.

 

Allah het die Openbarings aan die Boodskappers gegee met die doel om die mens te begelei na- en op die Regte Weg van Allah ten einde binne die Wil van Allah te lewe. Die Koran verwys na die Boeke wat openbaar was aan Abraham, Moses, Dawid, Jesus en Mohammed.

 

Vandag egter, bestaan die Boeke wat voor die Koran geopenbaar was nie meer in hulle oorspronklike weergawes nie. Die oorspronklikes daarvan het verlore geraak of was weggesteek of het onbetroubaar geraak omdat mense met die inhou daarvan gepeuter het, soms skynbaar met die beste van bedoelings maar skynbaar ongelukkig ook soms met duistere motiewe. Allah weet die beste.

 

Die swakheid van die mense gedurende die vroeë tydperke van Judaisme en die Christendom is gedeeltelik die oorsaak daarvoor. 'n Mens hoef maar net die geskiedenis van die Ou Testament en die geskiedenis van die vroeë Christelike Kerk te bestudeer om te besef watter onsekerhede die Teoloog en die Gelowige mee gekonfronteer word in hierdie verband.

 

Moslems glo dat vandag is slegs die Koran die enigste outentieke, betroubare en volledige Boek van Allah wat oor is. Alhoewel baie geleerdes die feit dat die Koran vandag nog dieselfde is as 1400nC gelede bevraagteken, glo Moslems tog dat dit inderdaad die geval is. 'n Mens kan maar net op die Internet en in die gedrukte Media gaan kyk na die debatte onder geleerdes en leke om te weet dat die laaste woord oor hierdie onderwerp nog lank nie gespreek is nie.

 

Nietemin is Moslems steeds skynbaar vas oortuig daarvan en kies die Moslem om dit te glo, juis omdat dit moeilik is om veral op die Internet te onderskei tussen feit en propaganda. En nou is dit so dat die Internet die algemene bron van kennis van die gewone mens van ons dag geword het.

 

Moslems streef steeds na al die jare daarna om die Koran woord vir woord te memoriseer en om dit met die korrekte intonasies en stembuigings te kan resiteer as deel van Aanbidding.

 

Moslems glo ook dat Allah as die Openbaarder van die Koran, ook die Beskermer daarvan is en dit so beskerm en bewaar dat dit nooit verlore kan raak, onbetroubaar kan raak, weggesteek kan raak of geheim gehou kan word nie.