'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
C. Gedragskode...
5. Islam is 'n Gedragskode vir die Lewe Die volgende uiteensetting dek al die fasette van die lewe en beskryf die ideale lewenswyse van 'n Moslem: 5.1 Geestelike Lewe: Die geestelike lewe van 'n Moslem behels: Aanbidding en Gebed, Vas, Armebelasting en Welsynswerk, Die Pelgrimsreis, Liefde vir Allah, Liefde vir die Boodskapper van Allah as voorbeeld van die ideale Moslem, Hoop en vertroue in Allah te alle tye, Liefde vir die waarheid, Liefde vir die mensdom ter wille van Allah en vir Sy Plesier juis omdat mens as gevolg van gebroke menseverhoudings nie altyd so voel nie, Die doen van goeie dade, wat eintlik maar al die genoemde dinge behels en ook net ter wille van Allah en vir Sy Plesier omdat alle lof vir enigiets en alles wat ons doen en beleef Hom toekom. 5.2 Intellektuele Lewe Die Moslem moet homself of haarself besig hou met ware kennis gebaseer op duidelike bewyse en onbetwisbare getuienis wat bekom word deur middel van ervaring en/of proefneming. Die Koran verwys na die ryke bronne van kennis in die hele Heelal. Islam verwag juis van die Gelowige 'n geloof wat gebaseer is op kennis en navorsing en plaas geen beperking op die studie van enige veld nie: inteendeel daar word van Moslems verwag om alle kennisvelde te ondersoek tot in die fynste besonderhede daarvan. 5.3 Persoonlike Lewe 'n Moslem se persoonlike lewe moet rein en skoon wees. Moslems behoort 'n gesonde dieet te volg, behoorlik geklee te wees, hulleself na behore te gedra en 'n gesonde seksuele lewe binne die huwelik te hê. 5.4 Gesins- of Familie Lewe 'n Moslem beskou die gesin of familie as 'n sosiaal menslike groepering waarvan die lede deur slegs bloedbande saamgebind word. Islam beskou nie byvoorbeeld: Aanneming van kinders, Wedersydse Alliansie, die Gemene reg, Verlowing en enigiets anders as Bloedbande, as deel van die Gesins- of Familielewe nie. Die Huwelik word beskou as die godsdienstige verantwoordelikheid van almal wat daartoe in staat is om die verantwoordelikhede van 'n huwelik te kan nakom. Elke lid van die Gesin of Familie het dus regte en verantwoordelikhede. 5.5 Sosiale Lewe Die mens is deur Allah beveel om sy uiterste bes te doen om hulp te verleen en goed te wees vir: Sy of haar Gesins- of Familielede, Ander verwante, Bediendes, Bure. Meerderwaardigheid op grond van klas, kleur, oorsprong en rykdom hoort nie by 'n Moslem nie. Die mensdom verteenwoordig een gesin wat almal van dieselfde Vader en Moeder afstam. Die eenheid van die mensdom is daarom nie alleen geleë in sy oorsprong nie maar ook in sy uiteindelike doelwitte. 5.6 Ekonomiese Lewe Die Moslem beskou die maak van 'n lewe deur middel van verdienste as 'n plig en as 'n teken van deugsaamheid. Dit wat die mens vir homself verdien is sy of haar private eiendom. Die indiwidu is verantwoordelik vir die vooruitgang van die Staat en die Staat is verantwoordelik vir die beveiliging van die indiwidu. Die ekonomiese stelsel in Islam is nie slegs gebaseer op berekenings nie, maar ook op morele waardes en beginsels. Die mens kom hierdie wêreld met leë hande binne en verlaat dit ook met leë hande. Allah is die ware eienaar van alles en die mens is bloot 'n trustee. 5.7 Politieke Lewe In 'n Moslem Staat behoort die Soewereiniteit of Oppergesag aan Allah. Die mense van so 'n Staat het slegs die voorreg om dit in Trust namens Allah te bestuur ooreenkomstig Sy Wette. Die Regeerder van die Dag is daarom slegs 'n Waarnemende Uitvoerende Beampte wat deur die mense van die Staat gekies word om hulle te dien ooreenkomstig die Wette van Allah. Die Staat het daarom die verpligting om reg en Geregtigheid te laat geskied en alle landsburgers te beveilig. Die Regeerders en Administrateurs behoort van die bes gekwalifiseerde landsburgers gekies te word en indien so 'n gekose Administrateur of Administrasie die vertroue van Allah en die mense verloën moet dit vervang word. Nie-Moslems wat in 'n Moslem Staat bly is vry om hul persoonlike lewens rakende byvoorbeeld: Huwelike, Egskeiding, Wat hulle eet en Erflating te bestuur op die Moslemmanier of soos hulle wil en op grond van hul eie godsdienstige oortuigings. Omdat nie-Moslems in 'n Moslemland dieselfde voorregte as Moslems geniet ten opsigte van byvoorbeeld veiligheid en sekuriteit sal daar van nie-Moslems verwag word om die voorgeskrewe belastings te betaal en staan dit die nie-Moslem vry of hy of sy ook die Armebelasting wil betaal. 5.8 Internasionale Lewe Die mensdom het 'n gemeenskaplike oorsprong, status en doel in die lewe. 'n Moslem respekteer die belange en regte van ander mense asook ander se reg op lewe, eer en eiendom solank as wat dieselfde regte van Moslems nie aangetas word nie. Moslems beskou oortreding van hierdie basiese lewensreël is algeheel verbode. Stryd of Oorlog teen die oortreders van hierdie lewensreël is slegs geregverdig indien die veiligheid van 'n Moslem of die Moslem Staat bedreig word. Die volgende is algeheel verbied tydens Stryd of Oorlog: Die vernietiging van oeste, diere en huise. Die doodmaak van nie-vegtende vroue, kinders en ou mense. Opsommende gedagtes: Die gedragskode vir Moslems soos hier weergegee is baie eenvoudig en mens kan dalk die gedagte kry dat die lewe daarbuite eintlik baie meer kompleks is en dat hierdie Gedragskode nie werklik daarteen opgewasse is nie. Die waarheid egter, en dit leer die lewe self vir die mens, is dat ware geluk is net te vinde in eenvoud en die toepassing van die eenvoudigste gedragskode denkbaar: en dit is wat Islam as praktiese Lewensriglyn wat deur Allah daargestel is, by die mens aanbeveel. Die uitdaging vir die mens is om hierdie Gedragskode vrywillig op sy of haar lewe toe te pas en deur Allah te laat toepas: dit is Islam en dit is waarmee ons hierdie bespreking begin het en soos Allah wou, gaan afsluit: Islam behels om jouself onderdanig te stel aan die basiese reëls vir optimale funksionering wat die Skepper vir die skepsel gestel het. Ja sowaar, dit is toe nou weer jy nè! En ek ook! Ek hoop jy het hierdie basiese bespreking insiggewend gevind en sal baie graag jou terugvoer wil ontvang. ___________________________