'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
2. Die woord: "Islam"
2. Die betekenis van die woord: “Islam” Die woord: “Islam” is afkomstig van die Arabiese stamwoord: “Salema” wat een van die volgende kan beteken: vrede, reinheid, onderdanigheid of gehoorsaamheid. In die godsdienstige sin beteken Islam onderdanigheid aan die Wil van Allah en gehoorsaamheid aan Sy Wet. Moslems glo dat enigiets en alles, watter verskynsel ook al in die hele wêreld voorkom, die mens uitgesluit, word geheel en al beheer en bestuur deur Godgegewe Wette, wat beteken dat dit gehoorsaam en onderdanig is aan Sy Wette. Met ander woorde dit is in die toestand van Islam. Die mens egter, besit die vermoëns van intelligensie en keuse, en word uitgenooi om homself onderdanig te stel aan die goeie Wil van Allah en om Sy Wet uit vrye keuse te gehoorsaam. Met ander woorde, die mens met sy vrye keuse word uitgenooi om 'n Moslem te word. Moslems glo dus verder dat onderdanigheid aan die goeie Wil van Allah, saam met gehoorsaamheid aan Sy voordelige en heilsame Wet, met ander woorde om 'n Moslem te word, is die beste veiligheidsmaatreël vir die vrede en harmonie van die mens. Islam dateer terug tot die tyd van Adam, en die Boodskap van Islam is oorgedra aan die mens deur die Boodskappers en Profete van Allah soos byvoorbeeld Abraham, Moses, Jesus en Mohammed. Juis omdat hulle en die ander Boodskappers en Profete sulke gehoorsame en onderdanige mense was, maak dit van hulle Moslems. Moslems glo daarom dan ook dat daardie Boodskap van Islam soos wat dit oorspronklik was, opnuut herstel en bevestig was aan die begin van die laaste fase van godsdienstige ontwikkeling of -evolusie, deur Mohammed, die laaste en finale Boodskapper en Profeet van Allah.