1. Die woord: "Allah"

 

1. Die betekenis en bedoeling van die woord: “Allah”

 

Die Arabiese woord “Allah” beteken gewoon in Afrikaans en in die Afrikaanse Kerkverband: “die enige God” wat bedoel dat Allah absoluut eiesoortig is en geen gelyke het nie, die Een en Enigste Ewige God, Skepper, Voorsiener en Onderhouer van die Heelal, die Koning van alle konings, die Alomgenadige wat aan alle wesens gelyktydig ewe veel genadig kan wees, en die Genadigste.

 

Die woord: “Allah” word ook skynbaar, interessant genoeg, deur Arabiessprekende Jode en Christene gebruik wanneer hulle na God verwys.

 

Afrikaanssprekende Christene het grootgeword met die woord: “enige” en behoort die betekenis daarvan in konteks goed te verstaan want Afrikaanse Predikante van veral die Gereformeerde Kerke, het dit altyd Sondae as deel van die Tien Gebooie van die kansel af gelees. Maar indien jy nie weet wat dit beteken nie, kan jy dit gerus in die woordeboek naslaan onder: “enig”

 

Ons kon daarom die woord: “God” op hierdie blad, hierdie Webtuiste, en in hierdie vertaling van die Koran gebruik het, maar ons verkies die woord: “Allah” omdat dit alle onsekerheid rakende van wie ons praat, uit die weg ruim en die leser wil verseker dat wanneer ons, asook die Koran en ons vertaling van die Koran by name: “Die Boodskap van die Koran” die woord: “Allah” gebruik, dan word bedoel: “Die God van Abraham, Isak, Jakob, Ismael, Jesus en Mohammed.”

 

Terwyl die woord: “Allah” uiteraard 'n eie ontwikkelingsgeskiedenis het, wil dit vandag net een betekenis oordra, die betekenis wat sopas verduidelik is. Ons wil dus hiermee enige onsekerheid wat mag bestaan by lesers veral in die lig van die geskiedenis van die woord “Allah,” wat ons almal tog uiteindelik tog net uit die beskikbare inligtingsbronne van ons tyd bekom, tot ruste bring met: “Allah was daar omdat Hy die Skepper, Voorsiener en Onderhouer van die Heelal is, so Hy weet die beste. Alle lof kom Allah toe.”