Shawwaal tot Sha'baan

Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste.

Koran Leesprogram vir elf maande volgens die Hijri Maankalender
 
Volgens die Maankalender: vanaf Shawaal tot Sha'baan, Ramadan uitgesluit

Hier het ons 'n program beskikbaar gestel, alle lof kom Allah toe, waarvolgens lesers van die Koran, soos Allah wil, die Koran kan deurlees in sy of haar Moedertaal vanaf die eerste dag van Shawaal tot die laaste dag van Sha'baan.

Ek het die dertig dae van Ramadan hier buite rekening gelaat, want lesers wil gewoonlik ander verpligtinge gedurende Ramadan nakom.

Die doel met hierdie leesprogram is om lesers aan te moedig om die Koran in sy of haar eie taal te lees teneinde dit beter te verstaan, want feit van die saak is eenvoudig dat daar van ons is wat so 'n hulpmiddel nodig het.

Omdat ek dit as 'n goeie hulpmiddel gevind het, en alle dank en lof kom Allah toe, wil ek ook hier lesers van die Koran help om die 6236 Verse van die Koran op te deel in die dae van die Hijri kalender sodat die leser, as hy of sy elke dag net daardie verse met aandag lees en oordink, in een jaar die hele Koran kan deurlees.

Ek weet uit ondervinding dat baie van ons so 'n program nodig het, wat ons kan help en kan aanspoor en aanmoedig om gereeld ons Koran te lees. Sommige mense, soos ek, is net meer suksesvol in so 'n projek as ons 'n uitgewerkte plan het.


So, nou kan jy begin... lekker!

Alle lof en dank kom Allah toe vir ons wonderlike Koran met die wonderlike Boodskap! Allah het al die moeite gedoen om dit oor 'n tydperk van 23 jaar vir die Profeet Mohammed(vvh) in sy Moedertaal te gee, juis sodat hy en sy hoorders dit baie goed sou verstaan: daarom moet ons dit oor en oor in ons Moedertaal lees sodat ons Allah se Boodskap goed sal verstaan, of wat praat ek?     

Amen.         (...kliek hier vir die program)