'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
Kommunikasie werk! Kla nie!
Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene.
Ek begin met die naam van Allah die Alomgenadige die Genadigste.
Kommunikasie werk! Kla werk nie!
Die ander dag gesels ek met iemand en sy vertel my, sy sit langs haar man in hulle huisie en dan sê sy, sy is lus vir tee. En dan gebeur niks nie en niemand roer van die sofa af om ook vir haar 'n koppie tee te gaan maak nie!
Dan begin dit, die bloeddruk styg en lelike gedagtes kom by haar op.
Maar nou wonder ek so by myself: Hoekom vra sy nie net liefdevol vir haar man of hy nie asseblief vir haar 'n koppie tee sal maak nie? Hoekom dink ons dat ons mans weet hoe om ons gedagtes te lees? “Lus” beteken nie noodwendig jy wil dit onmiddelik hê nie.
Verder sê sy, sy moet agter hom skoonmaak en hom ook hand en voet bedien en dan ook nog tevrede hou.
Toe vra ek vir haar: “Maar wat maak jou gelukkig, wat van jou tevredenheid en wat gee jou plesier?” Hierop het sy 'n baie negatiewe antwoord gegee en ek kon sien dat sy nie besef dat sy met hom moet kommunikeer nie. Sy aanvaar net dat omdat sy getroud is, is dit haar plig en moet sy alles maar net vat soos dit kom.
Hoekom kommunikeer ons nie met ons mans nie, en hoekom vind ons dit so moeilik om vir ons mans te vra om iets vir ons te doen?
As jou man iets wil hê dan vra hy, of dit nou 'n koppie tee is of jou heerlike kos, of sy pantoffels of dat jy sy moeë voete sal vryf of wat ook al.
Julle is tog lief vir mekaar, en dit is 'n gelyke vennootskap, elkeen met sy eie verantwoordelikhede soos wat Allah vir ons voorgeskryf het, in die huwelik.
Ons kla by ander vroue en sê dit of dat wat ons eindeloos irriteer oor ons mans. Dan hoor jou man die klagtes by die ander vroue of dit nou familielede is of nie oor wat hy verkeerd doen of wat hy nie doen nie en wat hy volgens sy vrou moet doen.
Hoe moet hy nou daaroor voel?
Sy vrou met wie hy getroud is sê nie vir hom wat haar pla nie, dit kom as 'n skok vir sy manlike ego. Hy wil nie dinge soos hierdie by haar vriendinne en familie hoor nie: hy het 'n vrou en hy wil dit by haar hoor: dit is JY, 'n mooi pragtige skepping van Allah.
Jy voel dat jy 'n slaaf is omdat jy kies om nie met jou man op 'n volwasse manier te kommunikeer nie. As jy dus nie wil voel dat jy jou man se slaaf is nie, begin praat met jou man en hou op om te kla.
As jy nog nie in alle aspekte van julle huwelik vir jou man gevra het waarvan hy hou en waarvan nie, dan is dit nou die tyd om dit te doen.
Kies 'n tyd wat reg is vir albei van julle, maak twee heerlike koppies tee of koffie of koeldrank of waarvan julle hou, nooi jou man uit om oorkant jou te sit, en gesels met mekaar: sê vir hom waarvan jy hou en waarvan nie en hy moet dieselfde doen.
As jy vir 'n rukkie stil wil wees omdat jy nie lekker voel nie as gevolg van byvoorbeeld menstruasiepyn of omdat jy geïrriteerd voel, verduidelik dan vir jou man, want hy kan nie jou gedagtes lees nie. Huweliksmaats is daar vir mekaar in alle omstandighede en in alle opsigte.
Allah het vir ons as vroue en manne rolle gegee om op hierdie aarde te vervul om dit maklik vir ons te maak. As 'n getroude paartjie hierdie rolle mooi verstaan gaan daar baie huwelike wees wat borrel van geluk, respek, vertroue, lojaliteit en ondersteuning vir mekaar, so Allah Wil.
Die jaarprogram van elke huwelik is vol van algemene en unieke gebeurtenisse byvoorbeeld Ramadaan, Eid of julle huweliksherdenking. Praat met mekaar oor dit wat julle beplan en beoog en verwoord hoe dit julle huwelik beïnvloed, want julle wil mos hê dat alles wat plaasvind in geluk en goedheid sal eindig.
Hoe bereik ons dit?
Wat verwag jou man van jou en jy van hom as dit by sulke gebeurtenisse kom?
En wat verwag julle van mekaar in julle daaglikse beplanning?
Omdat ons gekies het om met mekaar te trou vir die Plesier van Allah, is dit dan net sinvol om te vra: hoe lewe ons met mekaar vir die plesier van Allah?
Gebed: O my Allah, ek smeek U om my te help en vir my die wysheid te gee om myself en my man te kan help. Neem weg van my af die geneigdheid om aanhoudend te kla en om ondankbaar te wees en vervang dit met dankbaarheid, insig en praktiese oplossings vir ons uitdagings. Leer ons hoe om met mekaar te praat en vermeerder ons liefde, genade en vertroue vir mekaar. Amen.