Eid op 'n ligte noot...

 

Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene.

Ek begin met die naam van Allah die Alomgenadige die Genadigste.

 

Eid op 'n Ligte Noot

 

Hoe wonderlik 'n beloning van Allah af dat ons die twee Eids kan vier, elkeen met sy besonderse spesiale betekenis.

 

Om dit met my man wat 'n Revert is te vier, is baie spesiaal vir my en ek dank Allah dat Hy vir my, my wonderlike man gegee het.

 

Hier is nou vir jou 'n interessante kombinasie, want ek is 'n Indiër en gebore Moslem en my man is 'n Blanke Afrikaner Revert.

 

En dit maak nou 'n baie interessante Eid vir ons albei!

 

Ek is gewoond van kleins af dat op Eid-oggend eet ons, wat my man sal sê, aandete vir ontbyt: dis die lekker vleisgeregte soos hoender en skaapvleis...

 

En dan is daar ook geregte soos “Chevro” wat onder andere 'n mengsel van grondboontjies, gekleurde dun gerasperde aartappels, graanvlokkies “corn flakes”, “rice krispies” en “sev” is, en wat ons sommer so vir die lekker eet, en wat my man met 'n frons aankyk en ontbytkos noem.

 

Van die koekies wat ek bak is my man glad nie aan gewoond nie en noem 'n paar verskillende koekies: “woestyn koekies.” Ja, hy sê dit uit liefde en die opregtheid van sy hart, en dan lag ons daaroor.

 

Ek is van kleins af baie lief vir klapper en my man nie: so as dit kom by “sweet meats”, wat ek in elk geval nie vir hom kan verduidelik waarvandaan die naam kom nie, is dit baie soet en daar's 'n verskeidenheid van dit soos “burfee”, “magaj” en “coconut ice”...

 

My man weer is lief vir daardie regte Boerekoeksusters wat so drup van die stroop, en vind die smaak van ons Koeksisters te vreemd. Ek wil graag leer hoe om die druppendestroopdeurdrenkte Koeksusters te maak waarvan hy hou, so Allah Wil want ek is mal oor nuwe resepte en wil ook graag altyd vir my man maak wat vir hom lekker is.

 

Eintlik eet my man enigiets wat ek vir hom voorsit met baie liefde en waardering vir my moeite, maar dit bly interessant om te sien hoe hy die Indiër geregte aandurf...

 

My man help my as dit kom by die aansmeer van Mendi (Henna) op my naels: hy sny die sellotape vir my en ek waardeer dit.

 

O, en ek moenie vergeet om te vertel van huisskoonmaak nie: 'n angstigheid gemeng met spoed tref my as Eid nader kom om te “spring clean” en hy vind dit baie fassinerend dat ek so koorsagtig die huisskoonmaakgier kry net so voor Eid.

 

Ja en so beleef ons 'n wonderlike Eid saam met mekaar en doen wat ons albei geniet. Dis die huwelik en dit is wonderlik.

 

Gebed: Mag Allah vir elkeen van ons 'n geseënde, liefdevolle, verrykende Eid gee waarin ons vir Sy plesier mekaar sal liefhê, vergewe en voortstrewe om nog goeie dade te doen en beter Moslems te word. Amen.