'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
Getroud met 'n Revert...
Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene.
Ek begin met die naam van Allah die Alomgenadige die Genadigste.
Dit is 'n baie groot eer wat Allah ons gee om getroud te wees met 'n Revert
deur Sadia
Allah vereer ons wanneer Hy vir ons 'n lewensmaat kies om mee te trou.
Vir 'n gebore Moslem is dit nog 'n groter eer wanneer Hy vir ons 'n Revert gee as lewensmaat. Allah het ons gekies om sy dienskneg wat Hy gelei het, op die Regte Weg te help, sagkens te hanteer, op te lei, met groot liefde te hanteer, altyd liefdevol (ja jy kan dit doen) en baie geduld. Om te kan verduidelik hoekom ons dinge op 'n sekere manier doen sodat hy die redes daarvoor kan verstaan, want dis jou doel om hom die mooi, praktiese Islam te leer omdat ons Geloof baie mooi en wonderlik is.
Ek wat 'n Indiër is, en 'n gebore Moslem, weet wat is reg en verkeerd, maar ek weet nie alles nie en leer nog elke dag met die genade van Allah. My spesiale Revert is hier in my lewe om my baie dinge te leer. Ja, nie net dat ek hom moet leer oor Islam nie. Allah het hom vir my geleen om geduld te leer, en bedagsaamheid, onder andere.
Kommunikasie is verskriklik belangrik, so los die stilstuipe, jou man verstaan nie stilstuipe nie. Allah stuur vir ons op ons lewenspad saam, 'n lewenspad met 'n paar bultjies en saam met dit die oplossings, so wees eindeloos geduldig, konsentreer op die oplossings en nie die bultjies nie.
Moenie hoë eise aan jou man stel nie en moenie verwag dat hy sommer net so alles sal kan doen wat van hom as Moslem verwag word nie. Goeie dinge kom na die toe wat wag, so beleef die wonderlike gevoel wat Allah in jou hart plaas wanneer jy jou man sien Aanbid of Vas, wanneer julle saam bid voor en na ete en soveel wonderlike dinge wat elke dag plaasvind in julle huwelik.
Leer hom dat Allah baie lief is vir hom en onthou dat Allah ook baie lief is vir jou, sodat albei van julle vir Allah sal lewe omdat julle Hom liefhet.
Moet hom nie forseer om sekere dinge te doen wat hy nog nie verstaan nie, vra Allah vir die wysheid om aan jou man te kan verduidelik wat dit is wat hy moet doen en hoekom.
Respekteer mekaar, wees lojaal teenoor jou maat, moet nooit ondankbaar wees nie.
Onthou jou Revert maat is nie 'n kind nie, so moet hom nie soos een hanteer nie. Sommige Moslems dink dalk dat 'n Revert 'n kind is en behandel hom so. Luister na hom en as jy nie met hom saamstem nie of hy met jou, praat oor dit om mekaar te verstaan.
Doen moeite om mekaar te leer ken: jy vir hom en hy vir jou ook, sodat julle met vrede en alles wat goed is saamlewe. Julle is daar om mekaar te ondersteun.
Ek is 'n mens wat van avontuur hou en Allah my Skepper weet dit, dis hoekom Hy vir my, my Revert as 'n lewensmaat gegee het. (Op 'n ligte noot)
Maak vrede met die verlede, lewe in die hede en hou op om toe te laat dat die verlede jou onderkry want dan sleep jy al jou geliefdes saam met jou en bly julle vasgevang. Word vry deur vir Allah te vra om jou te help om nie weer in al die ou slegte gewoontes te verval nie, veral nie nou in jou wonderlike huwelik nie.
So dames sit aan jou sitplekgordel en geniet die reis saam met jou spesiale Revert deur vir Allah te lewe.
Gebed: O my Allah, U het waarlik vir my, U nederige dienskneg, waardigheid gegee deurdat U vir my, my spesiale man gegee het om my lewe te deel. Ek sê baie dankie aan U Allah, en ek kan U nie genoeg bedank vir hierdie wonderlike geskenk nie. Laat ons saam in vrede, vreugde en met baie liefde lewe om U te dien. Amen.