'n Afrikaanse Moslem Webtuiste
Die Boodskap van die Koran vir vandag en vandag se mense
Roeping en Sending
Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste.
Deur die genade en guns van Allah is ek die afgelope byna twee jaar al besig met 'n heerlike vars nuwe vertaling van die Koran in Afrikaans getiteld: "Die Boodskap van die Koran". Hierdie is uit en uit 'n liefdeswerk vir die Plesier van Allah.
Ek gebruik veral die Ma'ariful Quran van Moulana Mufti Muhammad Shafi en vertaal vanuit die Engels en aan die hand van die kommentaar op elke vers. Ek poog nie hiermee om die Arabiese Koran te vervang nie, nee, ek wil dit juis komplimenteer.
My doel is, en ek glo van harte dat dit die Wil van Allah is, is om 'n Koran in Afrikaans beskikbaar te stel wat elke leser maklik sal kan lees en deeglik sal kan verstaan en aan die hart sal gryp: as dit die Wil van Allah is. Die Boodskap in die Koran is so wonderlik dat ek elke woord daarvan ten volle wil verstaan en 'n bydrae wil lewer sodat ander Afrikaanssprekende Moslems, belangstellendes, "Reverts" en voornemende Moslems dit ook vinnig en maklik kan geniet.
Glo vir my: die vertalingsproses is 'n wonderlike belewenis omdat Afrikaans my moedertaal is en ek die Boodskap van die Koran soveel beter verstaan in my eie taal. Deur die Koran te vertaal en dit weer te gee op so 'n manier dat ek elke teks met die eerste oogopslag ten volle kan verstaan, gryp my elke dag opnuut aan die hart. Dit is vir my soos 'n skatkis met kosbaarhede wat ek elke dag bietjie vir bietjie uitpak.
Dit is vir my so wonderlik en ek ontvang soveel seën daaruit dat die behoefte by my ontstaan het om dit nou reeds met lesers wat Afrikaans kan verstaan te deel, al verstaan die lesers net bietjie Afrikaans. Dink net hoe gaan die Afrikaanssprekendes dit geniet, so Allah wil: vandaar die besluit om dit nou reeds, soos die proses vorder, op hierdie algemene Afrikaanse Moslem Webtuiste, te plaas.
En wat ek ook, so Allah wil, nou wil begin, is om die verse soos wat dit my hart aanraak met jou te deel in die vorm van Dagstukkies waardeur ek saam met elkeen van die ongelooflike mooi verse 'n stukkie skryf om jou ook daarmee te bemoedig. Sommige van die verse is so pragtig wanneer ek dit in Afrikaans vertaal met die verklarende inligting vanuit die Ma'ariful Quran, dat dit my so opgewonde maak en ek dit net dadelik met iemand deel: ek wil dit graag met jou deel, hier en per e-pos!
Alle lof kom Allah toe!
Ek sal dit dus waardeer as jy hierdie opreg bedoelde projek sal toelaat om ook jou lewe te verryk, so Allah wil vir Sy Plesier, soos wat dit myne verryk.
S'aad Bekker, met waardering vir Sadia se aanmoediging.
S'aad Bekker, met waardering vir Sadia se aanmoediging.