Wie is 'n "Revert"?

Ek soek beskerming in Allah teen Satan die verworpene en ek begin met die Naam van Allah, die Alomgenadige, die Genadigste.

Hoe voorbereid is ons as Moslems om die "Reverts" vanuit die Christelike Afrikanergeledere te ontvang in Islam?

Verstaan ons regtig wat dit beteken as ons so iemand 'n Moslem sien word, so Allah wil, en hoe om hom of haar tuis te laat voel? Of behandel ons alle "Reverts" as onkundige ongelowiges... mense wat niks weet van Adam en Moses en Noag en... en geloof en bid nie?

Verstaan ons presies met watter probleme en uitdagings Gereformeerde- of Pinkster Charismatiese Christen Afrikaner "Reverts" te kampe het wanneer hulle Moslems word, sodat ons presies kan weet watter emosionele ondersteuning ons aan hulle moet gee? En glo my hulle het emosionele ondersteuning baie nodig!

Op hierdie deel van die webtuiste wil ek graag hieroor inligting beskikbaar stel wat:

eerstens die "Reverts" self, sal help om makliker tuis te voel in Islam en in die Masjiet en die nuwe vreemde omgewing beter te verstaan, en

tweedens die gebore Moslems: die Gemeentelede, Sheikhs, Imams, Moulanas help om te verstaan waarmee hulle te make het. 

Die doel is nie om te wil voorgee dat ek al die kennis en insig het nie, maar eerder om uit my ondervinding te skryf wat ek ervaar het en hoe die Broeders kon gehelp het om my meer tuis te laat voel as hulle net geweet het waardeur ek gaan: met ander woorde presies waardeur Christen Afrikaner "Reverts" gaan...

As jy dalk reeds so 'n krisis beleef of so 'n "Revert" moet bystaan, moenie wag totdat ek klaar is met die blad nie, e-pos my dadelik en praat met my. Ek glo, so Allah wil, dat ek jou definitief uit my ondervinding met iets sal kan help... en so terloops ek is nou maar eers vir 2 jaar 'n Moslem: ek het ook nog baie ondersteuning nodig... soos wat ek die Webtuiste begin het om vir jou iets te kan beteken... 

So Allah wil...